Die derde Internasionale toer na Suid Afrika was ook onderneem deur 'n Britse span, maar die keer was Suid Afrika meer voorbereid en het geweet wat op hulle wag. Op die toer wat omtrent twee maande geduur het, het die Britte 22 wedstryde gespeel, insluitende die toetse (die keer weer net drie toetse), waarvan hulle 11 gewen, 8 verloor het en 3 was gelykop. Die span-bestuurder was Johnny Hammond wat Suid Afrika vir die derde keer met 'n Britse span besoek het. Fairy Heatlie en Jackie Powell het ook vir die derde keer vir Suid Afrika gespeel sedert 1891.
Die Plattelandse span, gelei deur Oubaas Markotter, was die enigste provinsiale span wat die Britse toerspan kon klop behalwe in die Internasionale wedstryde. Saam met Markotter het Townsend en Barlow wat ook teen die toerspan gespeel het, later keurders geword.
Dit was in groen truie, gekies deur Fairy Heatlie, wat Suid Afrika die eerste keer 'n reeks-oorwinning kon behaal in 1903. Bob Loubscher was die jongste speler vir Suid Afrika op die ouderdom van 19 jaar en een maand.
Dit was die jare wat A.F. "Oubaas" Markotter rugby op Stellenbosch afgerig het en soos ons weet, het hy baie spelers Springbokke gemaak deur hulle talent raak te sien en te ontwikkel. So het hy 'n sagte plekkie gehad vir 'n jong man, klein en blond maar wat verwoesting kon saai teen opponente met sy lopies, naamlik, Japie Krige. Oubaas Mark het oral gesoek na 'n vleuel wat by Japie kon bly, want hy het meestal onder sy eie spelers uitgehardloop. Iemand het vir Bob Loubser voorgestel en Oubaas Mark se soektog was oor. Krige en Loubser het baie drieë tussen hulle gedruk en het mekaar se spel later soos 'n handskoen geken.
Japie Krige was die beste senter driekwart soos in daardie dae genoem, en die eerste Suid Afrikaanse speler wat die publiek se verbeelding so aangegryp het. Hy was geweldig vinnig van die merk af, en so individualisties dat Oubaas Markotter die res van die agterlyn om hom gebou het (hulle moes by hom aanpas). Hy was net 17 toe hy provinsiaal gekies is en het nooit in 'n verloor wedstryd vir Westelike Provinsie gespeel nie. Meer as een keer was dit net sy briljantheid wat gesorg het dat sy span nie verloor nie.
SUID AFRIKAANSE KLEURE
1903 was die jaar dat groen as kleur aangeneem was vir die Suid Afrikaanse rugbyspan. Soos in die laaste toets van 1896 het Barry Heatlie weer gereël dat sy span die groen truie van "Diocesan Old Boys" kry met wit kraë en swart broeke. Dit was volgens opgetekende rekords dat die Suid Afrikaanse Rugby Raad op 12 September 1906 ingestem het dat dit dan die nasionale kleure van Suid Afrika sou wees. Daar was egter nog nie 'n wapen en 'n naam gekies nie. Dit het eers in 1906-07 op die toer na Britanje gekom.
(8) Eerste Toets, Woensdag 26 Augustus 1903, Wanderers, Johannesburg
Suid Afrika 10, Britse Eilande 10
Twee spelers wat sekere keuses was om vir Suid Afrika te speel was Japie Krige en Bob Loubscher. Hulle was dan ook "genooi" vir die eerste toets. Krige was glad nie tevrede met die spelpatroon van die skakelpaar van Griekwas, "Uncle" Dobbin en Jack Powell nie want die bal het min by die drie-kwarte uit gekom en dit terwyl Krige graag gehardloop het met die bal.
Vir die Britte het Skrimshire, 'n senter van Wallis, 'n mooi drie gaan druk toe hy gemaak het of hy gaan skepskop en toe Suid Afrika huiwer, hy skielik met spoed deur is. Vir Suid Afrika het Jimmy Sinclair vêr veld gewen met 'n dribbel poging van ongeveer 40 treë. Vir Suid Afrika is drië gedruk deur Dobbin en Frew. Met Dobbin se drie het Frew weggebars en toe was dit Japie Krige wat dit verder gevat het en toe vorentoe geskop het vir Dobbin om die bal te kry vir sy drie wat deur Heatlie vervyf is.
Die Suid Afrikaanse voorspelers het later mooi met die bal beweeg en toe Harrison, die Britse heelagter die bal wou keer, is die bal by hom verby geskop en Frew het deurgekom en gaan druk en weer het Heatlie verdoel. Die Britte moes walgooi teen die aanslag van Suid Afrika
In die tweede helfte moes Suid Afrika walgooi teen die aanvalle van die Britte. Na 'n los skrum het Wallice terug gespeel na sy voorspelers en na 'n hand-tot-hand beweging is Cave deur vir 'n drie wat Gillespie verdoel het en die telling was gelykop tot aan die einde.
(9) Tweede Toets, Saterdag 5 September 1903, Atletiek Klub, Kimberley
Suid Afrika 0, Britse Eilande 0
Die tweede toets in Kimberley het ook gelykop geeindig met geen span wat punte kon aanteken nie. Albei spanne het verskeie kere amper punte aangeteken en Suid Afrika was in die eerste helfte die beter span. Jones het ongelukkig vroeg in die eerste helfte met 'n strafskop gemis nadat Dobbin sy span op die aanval geplaas het. Hancock het vir die Britte 'n paar keer mooi gered.
Ashley het gesorg dat Suid Afrika op die aanval bly en De Melker was op die hoekvlag uitgedwing. Na 'n ruk het Metcalfe die bal oor die Britte se doellyn gedribbel, maar kon net nie druk nie. In die tweede helfte het die Britte baie beter gespeel en dit was net goeie verdediging en foute wat hulle weerhou het om punte aan te teken. Op 'n keer was Srimshire deur maar was terug geroep vir 'n vorentoe aangee.
Naby die einde was Collett die Britse vleuel net op die hoekvlag gestuit. Hancock het vir die Britte 'n uitstekende wedstryd gespeel op die verdediging sowel as op die aanval. Die fluitjie het die wedstryd vir die Suid Afrikaners gered.
(10) Derde Toets, Saterdag 12 September 1903, Nuweland, Kaapstad
Suid Afrika 8, Britse Eilande 0
Die derde toets op Nuweland kan as 'n mylpaal gesien word omdat dit die eerste keer was dat Suid Afrika 'n toetsreeks teen Britanje kon wen. Voor die toets was daar sterk sprake dat die toets nie sou kon plaasvind oor die baie reën wat op Nuweland geval het nie. Die veld was toe onder die water. Gelukkig het dit nie gedurende die wedstryd gereën nie.
Skrimshire was weer aan die voorpunt van die Britte se aanvalle en twee keer was die bal oor die Suid Afrikaanse doodlyn sonder dat punte aangeteken was. Hierna was dit Suid Afrika se beurt met 'n baie goeie beweging wat hulle meer selfvertroue gegee het. Loubscher het spel tot op die halflyn gevat waarna Hobson mooi gebreek het en vir Carolin gegee het en terug na Barry wat weer na Carolin laat loop het maar hy is net kort voor die lyn gestuit. Suid Afrika het mooi aangeval en Hobson was twee keer gestuit voor die lyn. Toe was dit weer die Britte wat aangeval het met Wallace en Greig wat amper op 'n drie uitgeloop het. Rustyd het aangebreek met die telling 0-0.
In die tweede helfte was dit Suid Afrika wat die Britte oor was. Carolin het Suid Afrika op die aanval geplaas en alhoewel Scott en sy manne terug geslaan het, was dit Krige wat enige gevaarlike beweging in die kiem gesmoor het. Toe was dit weer McEwan en Ferris wat die bal net te hard oor die doellyn van die Britte gedribbel het, voor een kon druk. Suid Afrika het op die aanval gebly en dit was weer McEwan wat van 'n lynstaan af weggebreek het en vir Barry oor gestuur het vir 'n drie.
Net hierna het Ferris, Barry, Carolin en Loubscher mooi hanteer wat net deur Greig gestuit was toe Loubscher amper oor was. Die Britte het toe hanteer en Gillespie, Wallace en Todford het spel tot naby die SA doellyn gevat maar 'n strafskop het verligting gebring vir SA. Krige het toe weer spel verplaas tot in die Britte se helfte en Hobson het die opening gemaak vir Reid om verby 'n hele paar verdedigers te hardloop vir sy drie. Heatlie het geslaag met die doelskop.
Hierna het Suid Afrika weer aangeval maar Ferris het gegly en geval toe dit gelyk het of hy sou gaan druk. Die eindfluitjie het hierna geblaas met Suid Afrika waardige wenners van die toets en die reeks.
Comments