Agter: William Neill, Bingo Burger, Adam Burdett, Arthur Marsberg, Arthur Burmeister, Anton Stegman, Japie le Roux. Middel: Dietlof Maré, Dougie Morkel, Hubert Reid, Klondyke Raaff, Koei Brink, Douglas Brooks, Mary Jackson, Billy Millar. Sittende: Andrew Morkel, Henry Daneel, Pietie le Roux, Paul Roos (Kaptein), Cecil Carden (Bestuurder), Paddy Carolin, Uncle Dobbin, Rajah Martheze, Boy de Villiers. Voor: Sydney de Melker, Steve Joubert, Jack Hirsh, Bob Loubser. Inlas: Japie Krige, Sommy Morkel.
Dit was 'n geskiedkundige toer in meer as een opsig. Dit was die eerste keer dat 'n Suid Afrikaanse internasionale rugby span buite die land's grense gaan toer het en dit was op die toer waar die Springbok naam en kenteken (wapen) ontstaan het. Die toer van 29 wedstryde insluitende vyf toetse, het 3 maande en sewe dae geduur. Die span het bestaan uit 15 agterspelers en 14 voorspelers en is gelei deur kaptein Paul Roos met Paddy Carolin as onder kaptein. Die spanbestuurder was Cecil Carden.
HOE HET DIE NAAM ONTSTAAN?
Tydens die span se oefening voor die eerste wedstryd, het 'n Engelse joernalis na kaptein Paul Roos gekom en hom gevra wat noem hulle hulself. Kyk na die video opname van Gideon Roos, Paul se seun wat verduidelik hoe die Springbok naam ontstaan het.
Paul Roos - Springbok kaptein - 1906-07
Die span van Paul Roos het besonders goed gedoen op hulle toer deur die Britse Eilande en ook Frankryk. Uit die 29 wedstryde het hulle 26 gewen, 2 verloor en 1 gelykop. Meeste van die wedstryde is met redelike hoë tellings gewen teenoor die min van die opponente. Hulle het 533 punte teenoor 79 op toer aangeteken.
Die langste man was 6'3" en die swaarste minder as 199lb.
(11) Skotland, Saterdag 17 November 1906, Hampden Park, Glasgow
Suid Afrika 0, Skotland 6
Daar was basies twee faktore wat teen die Springbokke getel het naamlik die erg swaar en nat veld asook drie spelers wat beseer was en nie veel beteken het nie (geen plaasvervangers nie). Volgens Billy Millar was daar groen gras voor die wedstryd maar met al die reën was dit net modder en was daar omtrent geen gras meer oor teen die einde van die wedtryd nie. Die Springbokke moes meestal verdedig want die toestande het die Skotte soos 'n handskoen gepas.
Munro het 'n skepskop vir Skotland gemis en toe was dit Macleod wat net betyds gestop is voor hy kon oorgaan. Toe was dit Marsberg wat die sterk Skotse voorspeler, Bedell-Sivright grond toe gebring het en 'n belowende beweging gestuit het.
In die begin van die tweede helfte was die Skotte weer gou op die aanval, maar Marsberg en De Villiers het baie goed verdedig. Hierna het Stegman goed beweeg vir die Springbokke maar hulle was naby die doellyn gestuit. Die eerste drie van die Skotte was gedruk deur Macleod toe Munro, die losskakel begin hardloop het en toe hy voorgekeer was, 'n dwarsskop gegee het wat Macleod pragtig uit die lug raakgevat het op spoed om oor te gaan vir die drie. Die drie het die wind uit die seile van die Springbokke gehaal na alles teen hulle was.
Daar was 'n ligpuntjie toe Loubsher mooi genael het en die opponente geklop het maar ongelukkig deur die Skotse heelagter Scouler geduik is. Hierna het Spiers weggebreek vir Skotland, maar Krige het mooi gered. Teen die tyd is Marsberg van die veld afgedra met 'n besering toe hy een van die Skotse dribbel bewegings wou stuit en toe beseer was. Hierna het die Skotte weer vorentoe beweeg waarin Sivright, Thomson en McCullum prominent was maar dit was Purves die vleuel wat vinnig opgeskiet het om 'n mooi drie te gaan druk wat weer nie verdoel kon word nie. Die eindtelling dan 6-0 vir Skotland.
(12) Ierland, Saterdag 24 November 1906, Balmoral Ground, Belfast
Suid Afrika 15, Ierland 12
Die Springbokke het in die eerste helfte teen 'n sterk wind gespeel en moes uithaal teen die Iere. Die Springbokke het egter eerste punte aangeteken toe Jackson met 'n stafskop geslaag het. Hierna het die Ierse voorspelers goed beweeg met die bal maar die beweging het doodgeloop. Die Iere het weer spel beheer waarna Sugars sy drie gaan druk het (3-3). Van die afskop af was dit Coffey, Allan en Tedford wat die bal beheer het tot in Suid Afrika se helfte. Toe is McIldowie op die lyn gestuit. Daarna het die Springbokke beweeg met eers Loubsher en toe Stegman en Hirsch wat nuwe lewe in die Springbokke geblaas het. Toe was dit weer Loubsher wat een van sy kragtige lopies ingekry het om die opposisie te klop en te gaan druk (6-3).
Suid Afrika was nou in beheer en dit het nie lank geneem of Loubsher was weer een te veel vir die Iere toe hy weer deur was vir sy tweede drie (9-3). Kort daarna was dit die beurt van Japie Krige om te wys hoekom hy so hoog aangeslaan was toe hy deur die Iere gehardloop het vir sy drie (12-3). Tot en met halftyd was daar net een span op die veld en Ierland was gelukkig dat die Springbokke nie meer punte aangeteken het nie.
Na rustyd het die Springbokke dadelik aangeval met Daneel en Marthese wat vorentoe gedribbel het verby die Ierse heelagter, maar Gotto die vleuel het net betyds gered. Kort daarna was dit weer Loubsher wat met spoed deurgevleg het maar op die laaste nippertjie gekeer is toe Maclear hom van nêrens af nie grond toe gebring het.
Nou was dit die iere wat aangeval het en spel is tot in die "25" gebied van Suid Afrika verplaas. Die Springbokke is toe gestraf en Parke die Ierse kaptein het met 'n uitstekende skop teen die wind geslaag (12-6). Daarna was dit nog die Iere wat aangeval het maar Joubert het telkemale sy span gered met goeie buite skoppe.
Na 'n losgemaal in die Ierse "25" het die bal vir Maclear die vleuel bereik en hy het eers amper twee keer gestruikel maar toe was hy op spoed. Selfs die Springbokke se Bob Loubsher wat baie vinnig is kon hom nie vang nie en hy is ook verby heelagter Steve Joubert om 'n drie te gaan druk waaroor nou nog gepraat word.
Nadat die Springbokke mooi gevorder het tot in die Iere se "25" was dit die Iere wat met die bal voor die voete gedribbel het omtrent tot op die Springbokke se doellyn waar Sugars gaan druk het nadat die bal tot in sy hande geskop is (12-12). Die Springbokke was egter nog nie klaar nie en na 'n goeie beweging was die bal in die hande van Stegman en hy het met 'n bo-menslike poging verby die Iere gekom om die wendrie te gaan druk vir Suid Afrika (15-12).
(13) Wallis, Saterdag, 1 Desember 1906, St Helen's, Swansea
Suid Afrika 11, Wallis 0
Die toets teen Wallis was net 'n week na Ierland en daar was geglo dat die Walliesers die Springbokke kon klop aangesien hulle die enigste span was wat onoorwinlike All Blacks die vorige jaar kon klop. Dit is presies wat die Springbokke gemotiveer het vir die toets teen Wallis.
Die Toets het iets baie interessant opgelewer naamlik in die voorry waar Wallis 'n taktiek gebruik het deur altyd die bal by hulle loskop in te gooi. As die ander span die bal ingegooi het is die bal uit geskop en dan het die skeidsregter gewoonlik gesê hulle moet die ander kant gebruik. Die Springbokke was gewaarsku hierteen deur 'n Wallieser en hulle plan was toe om sodra die Walliese skrumskakel die bal sou ingooi, een van die losvoorspelers dan ook in die voorry sou gaan sak om dit dan twee loskoppe aan beide kante van die skrum te gee. Die 3-3-2 formasie in die skrum het toe skielik verander na 4-3-1 wat toe nog binne die reëls van die tyd was. Die verandering het Suid Afrika die bal besorg van feitlik elke skrum.
Wallis was net een keer gevaarlik toe Marsberg teen Nicholls, die Walliese kaptein vas geskop het maar hy het aangeslaan voor hy kon gaan druk het. Net daarna was daar 'n goeie dribbel beweging vorentoe met Brink, Roos en Daneel en 'n mooi lopie van Loubser. Wallis moes toe skarrel om al die gate toe te stop want die Springbokke was hulle oor. Die eerste drie het gekom na Dobbin eers vir Krige in besit gestel het, en hy het toe laat loop na De Villiers wat weer uitgegee het na Joubert wat na 'n sterk lopie die bal in die hoek gaan druk het (3-0). Wallis was net kort in Suid Afrika se gebied maar toe kry Krige die bal en skop hoog vir sy voorspelers wat mooi gevorder het voor die bal op Loubsher geskop is wat 'n baie goeie beweging met 'n drie afgerond het (6-0).
In die tweede helfte het Marsberg en Krige mooi beweeg en toe weer Loubser wat die Springbokke op die aanval geplaas het. Vanaf 'n skrum het Wallis probeer harloop maar Dobbin het dit gekeer en die voorspelers was in besit en het gekom met 'n stormloop. Nicholls het probeer keer maar die bal terug gegooi waar Brink die bal opgepik het en vir Raaff oorgestuur het vir 'n drie wat Joubert verdoel het (11-0).
Hierna het Wallis mooi gevorder toe hulle voorspelers die bal tot diep binne Suid Afrika se gebied gedra het en Marsberg net betyds vir Williams geduik het naby die doellyn. Dobbin het toe verligting gebring met 'n mooi skop en toe weer mooi gebreek om die skrum. Sy aangee na Krige was effens vorentoe en 'n sekere drie was verlore. Daar was heelwat vorentoe aangeë aan beide kante wat punte kon beteken het. Daarna was daar 'n mooi agterlyn beweging deur die Springbokke waarna die eindfluitjie geblaas het met Suid Afrika waardige wenners.
(14) Engeland, Saterdag, 8 Desember 1906, Crystal Palace, London
Suid Afrika 3, Engeland 3
Net 'n week na Wallis moes Engeland gepak word, maar die Springbokke moes speel sonder drie van hulle staatmakers naamlik, Japie Krige, Anton Stegman en Japie le Roux wat beseer was (Krige moes 'n blindederm operasie ondergaan). Boonop het dit weer baie gereën en die veld was sopnat wat nie die Springbokke se styl gepas het nie.
Die eerste helfte was een van verspeelde kanse vir die Springbokke soos toe De Villiers die bal van 'n losskrum gekry het en los deur gebreek het, maar toe hy vas gevat was, was daar geen ondersteuning by om af te rond nie. Ook heelagter Marsberg was twee keer naby die doellyn gestuit, een keer na 'n volle agterlyn beweging. Op 'n ander keer het Raaff die bal verby die Engelse heelagter gedribbel, maar kon nie betyds by die bal kom nie.
Springbok heelagter Marsberg het daarna 'n dwarsskop gelos wat aangeslaan was deur die Engelse en Le Roux en Millar was by vir Millar om die drie te druk (3-0). Dit was dan ook die rustyd telling.
In die begin van die tweede helfte was dit Brookes wat die bal tot in die Springbokke se gebied gedribbel het. Hier het Jago weggebars en 'n dwarsskop gegee wat mooi deur Shewring gevang is en hy het begin met 'n mooi lopie, maar sy aangee na Brookes was te laag en hy kon net die bal vorentoe skop. Daarna was dit weer die Engelse, die keer die voorspelers wat die bal gedra het to oor die doellyn met Brookes wat sy drie gedruk het (3-3).
Van toe af moes Suid Afrika kwaai verdedig teen die aanslag van die Engelse en 'n paar maal was die bal net betyds doodgedruk. Die wedstryd het gelykop geeindig met eers Suid Afrika en toe Engeland wat die onderskeie helftes beheer het.
Comentarios