Op 'n reis per skip wat 24 wedstryde in Australië en Nieu Seeland ingesluit het, en wat amper drie maande geduur het, kan die Springbok toerspan van Theo Pienaar baie tevrede wees met wat hulle vermag het. Uit die 24 wedstryde het hulle net twee verloor waaronder een toets.
AGTER: Taffy Townsend, Jack Siedle, Alf Walker, Attie van Heerden, Tank van Rooyen, Tokkie Scholtz, Charlie Meyer, Mannetjies Michau. STAANDE: Wally Clarkson, Phil Mostert, IB de Villiers, Theuns Krüger, Baby Michau, Royal Morkel, Henry Morkel, Nic du Plessis, Fien Olivier, Bill Zeller. SITTENDE: Jackie Tindall, Gerhard Morkel, Frank Mellish, Theo Pienaar (Kaptein), H.C. Bennett (Bestuurder), Boy Morkel, Mervyn Ellis, Sarel Strauss, Harry Morkel. VOOR: Sas de Kock, Jackie Weepner, Billy Sendin.
BYKOMSTIGHEDE:
Attie van Heerden was 'n dubbele Springbok want in 1924 het hy Suid Afrika by die Olimpiese Spele verteenwoordig. Hy het ook 'n rekord opgestel deur in die wedstryd teen Nieu Suid Wallis, vyf drieë te druk, 'n rekord wat eers weer in 1956 deur Roy Dryburg verbeter is toe hy ses drieë teen Queensland aangeteken het.
Alf Walker was die eerste Springbok wie se seun, Harry Newton ook 'n Springbok was in 1953 en 1956.
Drie lede van die toerspan het later Springbok keurders geword naamlik, Frank Mellish, Bill Zeller en Theo Pienaar, die kaptein.
(23) Eerste Toets, Saterdag 13 Augustus 1921, Carisbrook, Dunedin
Suid Afrika 5, Nieu Seeland 13
Die Springbokke kon tevrede voel met die weer wat eg Suid Afrikaans was wat hulle teegekom het in Dunedin. Hulle moes egter sonder hulle twee losskakels Tindell en De Kock teen die All Blacks opdraf, alhoewel hulle nogsteeds genoeg selfvertroue gehad het om die All Blacks aan te durf. Die valse hoop was gegrond op die feit dat hulle gedink het hulle agterspelers was beter as die van die All Blacks.
Die All Blacks was egter al maande voor die eerste toets gekies en twee beroemde All Blacks het hulle gedril in 'n hegte eenheid. Die Springbokke het eerste punte aangeteken toe Attie van Heerden 'n welverdiende drie gedruk het wat Gerhard Morkel vervyf het (5-0). Die Springbokke het ook die meeste aanvalswerk in die eerste helfte gedoen. Die Springbokke het ook 'n hele paar strafskoppe pale toe verbrou wat maklik die uitslag van die toets kon verander het. Een keer is Henry Morkel op die hoekvlag uitgeduik en toe is die All Blacks van 'n drie beroof toe 'n voorspeler geduik het vir die doellyn maar Boy Morkel het die bal uit sy hande geskop.
Vroeg in die tweede helfte het twee Springbokke 'n bal agterna gesit maar die bal was duime voor hulle kon druk, oor die doodlyn agter. Dwarsskoppe is wat die All Blacks gered het in die tweede helfte toe hulle vinnig dertien punte aangeteken het, waaronder drie drieë. Die eerste van die drieë het gekom toe Badeley, die een vleuel 'n baie goeie dwarsskop gegee het en die voorspeler Bellis het gaan druk wat ook vervyf was (5-5). Die Springbokke het dadelik kwaai aangeval en gevorder tot in die All Blacks se "25". Die Springbok agterlyn het die bal laat loop en weer is daar 'n dwarsskop gegee, maar die keer het dit rampspoedig vir die Springbokke ge-eindig toe die een senter van die All Blacks, Steele, die bal gevang het en dwarsdeur gehardloop het vir 'n drie wat ook vervyf was (5-10).
Hierna het die All Blacks die een aanval na die ander geloods en toe hulle een senter, Aitken vir Storey oorstuur vir nog 'n All Black drie, was die skrif aan die muur. Toe die eindfluitjie egter blaas was dit die Springbokke wat op die aanval was. Die All Blacks het die eerste toets ooit tussen die twee spanne dus met 13-5 gewen.
Die tweede toets het rugby van hoogstaande gehalte opgelewer en was beskryf as die beste wat tot nog toe in Nieu Seeland gesien was. Dit was 'n vinnige en oop wedstryd waar die uitslag tot op die einde in die weegskaal was. Toe die twee moeë spanne aan die einde van die veld af gekom het was die reeks 1-1.
(24) Tweede Toets, Saterdag 27 Augustus 1921, Eden Park, Auckland
Suid Afrika 9, Nieu Seeland 5
Die Springbokke was bewus daarvan dat die tweede toets uit drie, die deurslaggewende een vir hulle sou wees om te verseker dat hulle nie die reeks verloor voor die derde toets nie. Hulle het daarom eerder versigtig begin en algaande die pas aangegee. Hulle was gevaarlik by meer as een geleenheid. Groot Tank van Rooyen het weggebreek en laat loop na Clarkson wat pragtig gebreek het voor hy na Sendin laat loop het wat 'n baie mooi beweging afgerond het met 'n drie wat deur Gerhard Morkel vervyf is (5-0).
Die All Blacks het egter terug gekom en Roberts die skrumskakel wat weggelaat was uit die eerste toets, 'n beslissing wat luidkeels deur die public veroordeel was, het sy keuse regverdig met 'n pragtige breekslag en toe 'n voorspeler, McLean oorgestuur het vir 'n drie. Nicholls het die skop waargeneem te midde van doodse stilte en sy skop het die regop-paal getref en toe deurgeskuur (5-5). Hierna het spel verwissel tussen die spanne heen-en-weer oor die veld en bewegings kort na mekaar het die skare op hulle voete gehad. Toe halftyd aanbreek was dit 'n welverdiende ruskans vir spelers en toeskouers.
In die tweede helfte het die vinnige pas voortgegaan en die Springbokke het 'n paar maal amper punte aan geteken en die 40 000 toeskouers na hul asems laat snak. Eers het Zeller weggebreek en almal ontduik en hy is feitlik op die All Blacks se doellyn eers platgetrek. Die All Blacks se strafskop daarna het weer die regop-paal getref maar die keer veld-in gebons. Hierna was dit weer Bill Zeller wat weggebreek het en weer was hy op die hoekvlag eers gestuit.
Die All Blacks het desperaat probeer om die druk te verlig en van 'n lynstaan af in hulle eie gebied die bal die lug in geskop. Gerhard Morkel, die Springbok heelagter, het die bal mooi raakgevat en 'n sierlike skepskop deur die pale gejaag (9-5). Kort hiena het Meyer vir Sendin weggestuur op 'n lopie wat amper weer punte beteken het, maar die beweging het doodgeloop. Met die skare op hulle voete en 'n wedstryd wat heen-en-weer geswaai het, het die skeidsregter die eindfluitjie geblaas. Suid Afrika het welverdiend die reeks lewendig gehou met die oorwinning (1-1).
(25) Derde Toets, Saterdag 17 September 1921, Athletic Park, Wellington
Suid Afrika 0, Nieu Seeland 0
Die derde toets het in gietende reën afgespeel waarin veral die voorspelers prominent was. Soos in ander toetse was dit die All Blacks wat
teen 'n geweldige pas begin het en alles probeer het maar kon nie punte aanteken nie. Dit het die Springbokke tyd gevat om die greep af te skud maar toe was dit hulle wat aangeval het. Van die aanvallende posisie het Michau prbeer oorduik vir 'n drie, maar hy het die bal verloor in die proses. Daarna het Gerhard Morkel kans gekry om pale toe te skop na 'n strafskop aan die Springbokke toegeken was, maar sy skop het teen die regop-paal beland en was nie oor nie. Die eerste helfte het aan die Springbokke behoort maar hulle kon net nie punte aanteken nie.
In die tweede helfte het die Springbokke teen die wind en reën in gespeel en behalwe vir Bill Zeller wat een keer mooi gebreek het en amper 'n drie vir sy span bewerkstellig het, was die Springbokke meestal op die verdediging, veral in die tydperk voor die einde. Die toestande van die nat veld en water poele het hardloop rugby baie bemoeilik en dit was die All Blacks wat met die wind en reën van agter, die oorhand gehad het in die tweede helfte. Keer op keer het hulle aangeval en dit het baie goeie en rotsvaste verdediging van die Springbokke gekos om die All Blacks te weerhou om punte aan te teken. Op die ou end was dit die gevoel dat die gelykop uitslag, 'n getroue weergawe van die spel was.
Bình luận