top of page

1953 Wallabies van John Solomon

Updated: Apr 16, 2021

Die tweede Australiese rugby toerspan wat Suid Afrika besoek het in 1953 het 27 wedstryde gespeel, insluitend vier toetse en dit was oor 'n tydperk van drie maande en ses dae. Geskiedenis is gemaak toe die Wallabies die eerste internasionale rugbyspan geword het om per vliegtuig na Suid Afrika en terug te reis. Die Springbokspan vir die eerste toets was almal op die toer na Britanje en Frankryk in 1951-52. Hennie Muller was nou die Springbok kaptein in die meeste toetse nog, naamlik in nege en dis een meer as Philip Nel wat in agt toetse kaptein was. Harry Newton-Walker was die eerste seun van 'n Springbok nadat sy vader Alf Springbok was in 1921/24.

Ryk van Schoor and Tjol Lategan, famous centre pairing of the Springboks in 1953.
Ryk van Schoor en Tjol Lategan

Ryk van Schoor en Tjol Lategan het in hul tiende toets agtereenvolgens vir Suid Afrika gespeel. Ryk het ook in sy twaalfde toets as senter gespeel wat 'n rekord was.


Jaap Bekker, Willem Delport and Chris Koch the Springbok front row in 1953.
Bekker, Delport en Koch

Jaap Bekker, Willem Delport en Chris Koch het as voorry in hul sewende agtereenvolgende toets saam gespeel.


Stephen Fry, Basie van Wyk en Hennie Muller het in hul negende toets saam as lostrio gespeel.






Johan Solomon was die kaptein van die tweede Australiese span wat Suid Afrika besoek het in 1953. Sy eersterangse rugby loopbaan het gestrek vanaf 1949 tot 1955 en hy het heelagter, vleuel, senter en losskakel gespeel, baie veelsydig inderdaad. Solomon het Australië in veertien toetse verteenwoordig waarvan party as kaptein.


Sy spanmaat, Nicholas Shehadie het hom so opgesom: "Quick enough to play centre or wing, equipped with a skilful swerve and sharp acceleration when a gap appeared. Much admired for his astute captaincy".







 
The South African rugby selectors in 1953.
Gray, Craven, Mellish, Kipling, Zeller

Die Springbok keurkomitee in 1953.


 

(60) Suid Afrika, Saterdag 22 Augustus 1953

Ellispark, Johannesburg - Eerste Toets

Suid Afrika 25, Australië 3

Toeskouers (66 000)


Ellispark rugby football stadium in Johannesburg, South Africa 1953.
Ellispark, eerste toets, 1953


Suid Africa moes in wit speel omdat Australië se truie groen was en dit sou verwarring op die veld vir spelers en toeskouers veroorsaak.


EERSTE HELFTE:


Suid Afrika het vir Australië met presies dieselfde telling geklop (25-3) as waarmee hulle vir Frankryk op hul vorige toer van 1951-52 geklop het, m.a.w. die laaste toets voor die een. Die Springbokke het van die begin af oorheers in die skrum en lynstane en die agterlyn het genoeg hardloop kans gekry. Die losvoorspelers kon toe druk op die Wallabie skakelpaar uitoefen en toe heelagter Sweeney probeer wegkom is hy deur Salty du Rand vasgevat en toe was die losvoorspelers weer by om die beweging verder te vat en uiteindelik was dit Dinkelmann wat vir vleuel Buks Marais in die hoek oorgestuur het. Marais het sy eie vervyfskop pragtig uit die hoek oorgesit (5-0).


Springbok winger Buks Marais scores a try in the first test against Australia in 1953.
Buks Marais

Kort hierna het Marais 'n strafskop oorgesit om die telling 8-0 te maak. Hierna het die Springbok voorspelers as 'n pak mooi beweeg en die bal tussen mekaar laat loop tot in die Wallabies se gebied. Toe die stormloop gestuit word is die bal vinnig uit na skrumskakel Hansie Oelofse wat gebreek het en toe na sy binnekant laat loop het na groot Salty du Rand wat sy drie gaan druk het. Die drie kon egter nie vervyf word nie (11-0). Hierna het die voorspelers weer gevaarlik gelyk met 'n dribbel beweging maar halftyd het aangebreek.


TWEEDE HELFTE:


Springbok scrumhalf, Hansie Oelofse scores a try against the Wallabies in 1953.
Hansie Oelofse se drie

Die tweede helfte het dramaties begin toe die Springbokke na die verkeerde kant afgeskop het en die agterspelers het mooi gehardloop tot naby die Wallabies se doellyn en van daar het Hansie Oelofse, skrumskakle, die bal gekry en oorgeduik vir sy drie van 'n skrum af. Die drie kon ook nie vervyf word nie (14-0).


Oorgretigheid het veroorsaak dat die Springbokke onkant betrap was en kaptein Solomon het geen fout gemaak met die strafskop nie (14-3). Hierna was dit Johnny Buchler wat geantwoord het met 'n baie mooi skepskop om die telling weer op te stoot na 17-3 vir die Springbokke. Twee mooi Springbok drieë het hierna gevolg voor die einde van die wedstryd. Ryk van Schoor wat bekend was vir sy harde duikslae het sy opponent onderstebo geloop en die los bal was deur sy sentermaat Tjol Lategan opgepik wat sowat 30 treë gehardloop het vir sy drie (20-3).


Springbok centre Tjol Lategan scores a try in the first test of 1953.
Lategan se drie

Springbok rugby captain Hennie Muller scores a try during the first test of 1953.
Hennie Muller se drie

Toe het skrumskakel Hansie Oelofse gebreek en na sy agterlyn laat loop wat mooi beweeg het. Toe hulle vasgekeer word is die bal vinnig uit die losskrum weer agtertoe tot waar Ryk van Schoor weggekom het met sy losvoorspelers byderhand. Die bal was tussen hulle toe Hennie Muller die laaste aangee gevat het en oorgeduik het vir die laaste drie van die eerste toets. Heelagter Johnny Buchler het geen fout gemaak met die vervyfskop nie en die eindtelling was 25-3 in die Springbokke se guns.




FOTOS:



Hoogtepunte van die eerste toets:


 

(61) Suid Afrika, Saterdag 6 September 1953

Nuweland, Kaapstad - Tweede Toets

Suid Afrika 14, Australië 18

Toeskouers (34 000)





Captain of the Springboks rugby team, Hennie Muller leads out his team at Newlands in 1953.
Hennie Muller lei op Nuweland

Dit moes kom, geen span kan aanhou wen nie, maar dit was feitlik vyftien jaar sonder 'n verloor en tien toetse wat die Springbokke agtereenvolgens gewen het, wat op Nuweland tot 'n einde gekom het toe die Wallabies die Springbokke bo alle verwagting geklop het. Wat kan enige rugby wedstryd swaai? Die spring van die bal, 'n skeidsregter wat 'n vinnige besluit moet neem wanneer daar twyfel bestaan en beserings om net 'n paar te noem. Dr. Danie Craven, afrigter, het altyd gesê dat wanneer dit lyk of 'n span alles in hulle guns het, is die span op sy kwêsbaarste. Toets veteraan Hannes Brewis was vervang deur nuweling Ian Kirkpatrick vir die tweede toets.




EERSTE HELFTE:


Captain of Australia against The Springboks leads out his team during the second test at Newlands in 1953.
John Solomon Australiese kaptein

Hierdie was een van daardie onverklaarbare verloor toetse vir die Springbokke want alhoewel hulle in beheer was en die Wallabies oor was, het hulle nogtans verloor. In die eerste helfte het die Springbokke totaal oorheers en die bal rondgegooi en aangeval van orals af. Binne die eerste ses minute was Salty du Rand oor vir sy drie wat deur Buks Marais vervyf is (5-0). In die dertiende minuut was dit Tjol Lategan, Springbok senter wat baie mooi gebreek het en vir Chum Ochse oorgestuur het vir 'n drie wat nie verdoel kon word nie. (8-0),


Springbok prop forward Chris Koch scores a try against the Wallabies in 1953.
Chris Koch se drie

Die Australiërs het toe punte gekry toe Ryk van Schoor die bal 'n bietjie roekeloos teruggegooi het van die kantlyn af en die bal onderskep was deur Brown wat vir Stapleton in besit gestel het vir sy drie (8-3). Ryk het net daarna vergoed vir sy fout toe hy rigting verander het en 'n hele paar verdedigers geklop het en toe vir Chris Koch gegee het wat oorgeduik het vir sy drie en dit het halftyd aangekondig met Suid Afrika gerieflik voor 11-3. Die eerste helfte het definitief aan Suid Afrika behoort met niemand wat 'n opskudding voorsien het nie.


TWEEDE HELFTE:


Springbok flanker, Basie van Wyk scores a try during the second test against the Wallabies in 1953.
Basie van Wyk se drie

Na net drie minute van die tweede helfte het Hansie Oelofse om die skrum gebreek en vir Basie van Wyk oorgestuur vir nog 'n Springbok drie, wat so maklik gelyk het dat 'n groot oorwinning na 'n beslisde werklikheid gelyk het (14-3). Vyf minute later was dit egter die Wallabies wat gedruk het maar die drie was baie kontroversieël en was hewig gedebateer agterna omdat daar so baie onduidelikheid bestaan het of dit wel 'n drie was. Dit het gekom op 'n kritieke stadium van die wedstryd omdat dit die Wallabies weer binne tref-afstand van die Bokke gebring het.


Die drie het so gekom. Met die Australiërs op die aanval was dit Spanner Brown wat die bal oor die Springbokke se agterlyn gelig het met 'n skoppie tot na aan die pale. Heelagter Buchler en Phipps was agter die bal aan nadat Phipps die bal vorentoe gedribel het, maar die bal het skuins gehop en Buchler het sy arm uitgestrek om dit dood te druk. Skeidsregter Ackermann het egter beslis dat Cross wat opgevolg het wel eerste by die bal was om te druk en die drie is toegeken. Solomon het van reg voor die pale vervyf (14-8).


Nadat Solomon terggekeer het van 'n kort besering, het hy tussen die senters gaan staan en sy pak voorspelers met net sewe man gelos. Hennie Muller skryf in sy boek, "Tot Siens aan Toetsrugby" dat hy gedink het om voor te domineer en nie ook 'n speler uit te skuif na die agterlyn om te dek vir die ekstra man van die Wallabies nie, iets waarvoor hy agterna gekritiseer was. Hy beaam dat hulle die Wallabies voorlangs oordonder het, maar dat die Wallabies uitstekend verdedig het en hulle kon net nie deurkom nie.


Toe kom 'n onverwagse drie vir Australië na slim spel wat goed uitgevoer was. Die Springbokke was op die aanval toe die bal los spat aan Wallabie kant. Solomon het uitgegee na Phipps wat die lyn gebreek het en weer teruggegee het na Solomon en toe uit na Brown aan sy buitekant. Hennie Muller het ingehaal op Brown en wou hom net duik toe hy die bal na Johnson aan sy regterkant laat loop het. Buchler was geflous toe hy verwag het dat Johnson binnetoe gaan kom maar aangehou hardloop het hoekvlag toe na 'n 30 treë wedloop en oorgeduik het vir 'n welverdiende drie. Stapleton het vanuit die hoek mooi oorgeskop en die telling was skielik 14-13.


Toe skakel die Springbokke oor in hoogste rat en volgens Hennie Muller het hulle die Wallabies vasgepen in hulle eie halfgebied vir omtrent 'n volle twintig minute. Die bal is rondgegooi en daar is om die skrum weer teruggespeel na die voorspelers en twee keer het verbroude kanse die Springbokke punte gekos. Nog steeds het die Wallabies verdedig met alles wat hulle het. In die 41ste minuut van die tweede helfte het Australië sowaar weer punte gekry. Die Wallabies het die bal gekry 10 treë van hulle eie doellyn af en die bal deur die agterlyn laat loop na Stapleton. Buchler en Marais het die fout gemaak om altwee vir Stapleton te gaan en op die regte oomblik het hy na die vinnige vleuel Garth Jones laat loop.


Garth Jones scores a try for Australia against the Springboks in 1953.
Jones se drie

Hennie Muller was al Springbok oor om vir Jones te stop, maar het effens gehuiwer om te sien of Stapleton of Jones gaan binnetoe breek maar Jones het sy ore platgetrek en voluit genael vir die doellyn.

Garth Jones, Australian winger, 1953.
Garth Jones

Dit het 'n wedloop geword van 60 treë tussen Jones en Muller waarin Muller effens ingehaal het die eerste 30 treë maar Jones het sy momentum behou en omgeswaai in die doelgebied en agter die pale gaan val vir sy drie en uitgeput daar bly lê. Die vervyfskop was oor en die Wallabies het teen alle verwagtinge in die tweede toets gewen met 18-14. Volgens Muller het die Springbokke begin verslap na Van Wyk se drie toe hulle met 14-3 voor was en in internasionale wedstryde is dit fataal.



HOOGTEPUNTE OP VIDEO:

 

(62) Suid Afrika, Saterdag 19 September 1953

Kingsmead, Durban - Derde Toets

Suid Afrika 18, Australië 8

Toeskouers (32 000)




Dolf Bekker, Springbok rugby winger in 1953.
Dolf Bekker

Soos maar altyd na 'n verloor, word die span verander en die Springbok keurders het vyf veranderinge aangebring vir die derde toets en 'n sesde was gedwonge weens 'n besering aan Tjol Lategan, wat kort voor die wedstryd deur Daantjie Rossouw vervang is. Onder die voorspelers het Harry Newton Walker en Jan Pickard vir Chris Koch en Ernst Dinkelmann vervang. Agterlangs was dit drie nuwelinge in Steve Hoffman, Dolf Bekker ('n jonger broer van Jaap) en Natie Rens wat vir Chum Ochse, Buks Marais en Ian Kirkpatrick vervang het.






EERSTE HELFTE:


Die Springbokke was vasberade en geestelik reg ingestel vir hierdie allerbelangrike toets en afrigter Danie Craven het hard gewerk aan die verdediging. Die Springbokke het ook weer sterk begin op die aanval en anders as in die vorige twee toetse, seker gemaak dat niemand hul konsentrasie verslap nie en die Wallabies in 'n wurggreep vasgevat waaruit hulle nie kon kom nie. Nuweling losskakel, Natie Rens het baie goed kantlyn toe geskop wanneer dit nodig was, maar sy stelskoppe het teleur gestel. Die Wallabies se agterlyn wat so selfversekerd was op Nuweland, het geheuwer onder die druk wat Ryk van Schoor en sy makkers op hulle toegepas het met man-vir-man duikslae wat enige potensiële gevaarlike bewegings gestuit het.


Boy Louw, ex Springbok prop forward gives some advice to debutant Jan Pickard before the third test in 1953.
Oom Boy Louw en Jan Pickard
Debutant Springbok winger, Steve Hoffman against the Wallabies in 1953.
Steve Hoffman

Weer was dit Wallabie vleuel Garth Jones wat soos in die doodsnikke van die Nuweland toets, met 'n 50 treë lopie amper deur gekom het, was dit nie vir nuweling vleuel Steve Hoffman wat op die kruis-verdediging oorgekom het en vir Jones voor die doellyn plat geduik het nie. Alle verdere pogings deur die Wallabies om hul agterlyn te gebruik, is kortgeknip deur goeie Springbok verdediging.


Al die nuwelinge in die Springbokspan het hulself goed van hul taak gekwyt. Toe kom 'n geoefende beweging wat gewerk het en die eerste punte was op die bord. Dolf Bekker het die bal in 'n lynstaan gegooi en Jan Pickard wat gevang het, het dadelik die bal weer vir Bekker teruggegooi en die Wallabie voorspelers aan die slaap gevang. Bekker het sterk gehardloop en 'n paar duikslae gebreek voor hy oor was vir sy eerste drie in sy eerste toets. Natie Rens het mooi vervyf en dit was 5-0.


Springbok winger, Daantjie Rossouw at full cry against Australia in 1953.
Daantjie Rossouw

Hennie Muller het vir Spanner Brown die losskakel in 'n smoorvat gekry en die bal afgevat toe Brown van sy eie "25" wou hardloop. Die bal is toe vinnig na Stephen Fry en hy het uitgegee na Ryk van Schoor wat weer vir nuweling Daantjie Rossouw in besit gestel het, wat die buitegaping gevat het en toe weer binnetoe en verby Colbert geswenk het om te gaan druk. Losskakel Natie Rens het weer geslaag met die vervyfskop om dit 10-0 te maak teen rustyd wat aangebreek het.


TWEEDE HELFTE:


Players from South Africa and Australia prevent each other to get to the loose ball at Durban, 1953.
'n Gespook vir die losbal

Rustyd het Hennie Muller sy span aangesê om nie te verslap nie en nog meer druk toe te pas. Dit is presies wat Jaap Bekker gedoen het deur vir Nicholas Shehadie, sy opponent behoorlik uit die skrum te druk. Maar Jaap kon ook in die losspel mooi opvolg en dis hoe hy die volgende drie gedruk het. Ryk van Schoor het vir John Solomon hard grond toe gebring en Basie van Wyk het die losbal opgeraap en 20 treë gevorder voor hy vir Jaap Bekker laat loop het wat onder die pale gaan druk het. Rens se vervyfskop het die telling opgestoot na 15-0.


Jan Pickard, debutant lock forward of the Springboks in Durban, 1953.
Pickard aan die storm

Met net vyftien minute oor het Australië hulle eerste punte gekry toe kaptein John Solomon 'n strafskop oorgesit het (15-3). Enige hoop wat die Wallabies gehad het om weer soos op Nuweland terug te kom van agter af, is in die kiem gesmoor toe Hansie Oelofse om die steelkant gebreek het en vir Stephen Fry laat loop het op volsped en hy het vir Basie van Wyk gegee wat gedruk het (18-3).


In die doodsnikke van die wedstryd het die Aussies weer 'n geluk gekry toe Oelofse die bal verloor het in 'n duikslag 15 treë van Australië se doellyn. Burke het gebreek en toe vir Buchler getrek en vir Cross weggestuur op 'n 60 treë lopie om 'n uitstekende drie te gaan druk wat deur Colbert vervyf was om die eindtelling op 18-8 te staan te bring. Die Wallabie kaptein John Solomon het vir Hennie Muller agterna gelukgewens en gesê: "You were too good for us Hennie."

The two captains of South Africa and Australia shake hands after the test match ended at Durban, 1953.
Die twee kapteins

HOOGTEPUNTE OP VIDEO:


 

(63) Suid Afrika, Saterdag 26 September 1953

Crusader Ground, Port Elizabeth - Vierde Toets

Suid Afrika 22, Australië 9

Toeskouers (32 000)



Chris Koch en Chum Ochse was weer teruggebring vir die laaste toets in die plek van Harry Newton Walker en Steve Hoffman. Ongelooflik om te dink dat die Springbokke se oefening 5000 toeskouers getrek het. So hoog was die toetskoors in Port Elizabeth want die Wallabies kon nog gelyk trek. Australië het hulle kaptein John Solomon vervang met Herb Baker.


EERSTE HELFTE:


Australië het van die begin af op die onkantlyn gelê by die skrums en lynstane om te verhoed dat die Springbokke met die bal hardloop en aanvals bewegings begin. Die Wallabies was dan ook drie punte voor na net vyf minute na 'n fout van die Springbokke. Met die Springbokke op die aanval op hulle "25" het Hansie Oelofse steelkant om gebreek maar in die proses die bal laat val. Die bal is opgepik deur Brown wat 40 treë gehardloop het voor hy vir Buchler getrek het en vir Stapleton gegee het wat oor was vir 'n skok drie wat nie vervyf kon word nie (0-3).


Springbok winger Dolf Bekker about to kick against Australia in 1953.
Dolf Bekker

Net hierna het die Springbokke die bal in die skrum gehou en so van die Wallabies onkant betrap en Natie Rens het die strafskop oorgesit (3-3). Rens het toe weer geslaag met 'n strafskop en ook kort daarna met 'n skepskop om dit 9-3 te maak. Weer het die Wallabies gelyk getrek toe Baker twee strafskoppe oorgesit het en dit was 9-9. Baker was egter nie so vloeiend soos Solomon nie en het ook selde die bal buitekant toe laat loop met die gevolg dat Jones en Stapleton weinig van die bal gesien het.


Die Wallabies het meer geskop in die toets as in al die ander toetse saam. Hulle wou hierdeur klaarblyklik die harde duikslae van Ryk van Schoor neutraliseer, maar dit het nie gewerk nie. Hulle het weliswaar planloos voorgekom sonder Solomon in die agterlyn. Die Springbokke was volgens Hennie Muller besig om stadigaan die oorhand te kry in die vaste vasette van die spel en alhoewel rustyd aangebreek het op 'n ongewone warm Saterdag in Port Elizabeth, het die tweede helfte voorgelê met meer vooruitsigte. Rustyd was dit 9-9.


TWEEDE HELFTE:


Springbok scrumhalf gives a dive-pass to his backline against Australia in 1953.
Hansie Oelofse met 'n duikaangee

Hansie Oelofse het uitstekend gespeel en het 'n groot aandeel gehad in 'n beweging vroeg in die tweede helfte soortgelyk aan die wat vir die Springbokke baie drieë in Britanje gebring het in 1951-52. Vanaf 'n skrum net binne die Wallabies se "25" naby die kantlyn het Hansie gebreek steelkant om en die opposisie op hom getrek en na Basie van Wyk laat loop wat opgevolg het. Van Wyk het weer na sy flankmaat Stephen Fry laat loop wat vir Chris Koch oorgestuur het vir 'n mooi drie. Natie Rens het vervyf om dit 14-9 te maak.

Springbok front ranker Chris Koch dives over for a try against the Wallabies of 1953.
Chris Koch is oor vir sy drie

Naby die einde van die toets wedstryd was dit weer Hansie Oelofse wat die bal gekry het en gebreek het en toe hy voorgekeer word, 'n hoë skop gelos het. Die bal het verkeerd gespring vir die Wallabies se Colbert en Phipps en in die hande van Oelofse wat sy eie skop opgevolg het en hy was deur om te druk. Weereens het Rens vervyf (19-9).


Om die sout nog verder in die Wallabies se wonde in te smeer het 'n mislukte buitelyn skop in heelagter Johnny Buchler se hande beland en hy het 'n netjiese skepskop oorgesit om die eindtelling op 22-9 te staan te bring. So het nog 'n toetsreeks ge-eindig in die guns van die Springbokke met 3-1.

 

Commentaires


bottom of page