Die derde besoek deur die Springbokke aan Australië en Nieu Seeland was nie so geslaagd nie en die span het baie terugslae en probleme ondervind. Van die faktore wat teen die Springbokke gewerk het was onder andere, die baie beserings wat opgedoen is en hiermee saam kan die slegte nat veld toestande genoem word. Die interpretasie van die reëls en die feit dat van die skeidsregters nie die ontkant-reël konsekwent toegepas het nie was van die ander faktore wat tot die Springbokke se ondergang gelei het.
Daar was soveel beserings op toer dat twee plaasvervangers uit Suid Afrika laat kom is naamlik Theuns Briers en James Starke en hulle het by die span aangesluit voor die eerste toets. Basie van Wyk het sy been gebreek voordat die toer amptelik begin het en hy kon geen wedstryd op toer speel nie (wat 'n tragedie).
Salty du Rand en Chris Koch het die rekord van Boy Louw en Gerry Brand geëwenaar deur in vyf internasionale reekse te speel.
Roy Dryburgh het die rekord van Attie van Heerden gebreek deur ses drieë in een wedstryd te druk naamlik teen Queensland ook in Australië.
Al drie die Springbok losskakels was ook provinsiale krieketspelers, naamlik, Clive Ulyate, Brian Pfaff en Peewee Howe.
Die keurders was: Frank Mellish (Voorsitter), Bill Zeller, Danie Craven, Basil Kenyon en Jan Lotz.
AGTER: Bertus van der Merwe, Daan Retief, Jaap Bekker, Melt Hanekom, Harry Newton Walker, Jeremy Nel, Butch Lochner, Tom van Vollenhoven, Clive Ulyate, Chris de Wilzem. STAANDE: Wilf Rosenberg, Piet du Toit, Jan Pickard, Johan Claassen, Chris de Nysschen, Dawie Ackermann, Chris Koch, Roy Dryburgh, Brian Pfaff. SITTENDE: Paul Johnstone, Johnny Buchler, Basie Viviers (Kaptein), Danie Craven (Bestuurder), Salty du Rand, Ian Kirkpatrick, Basie van Wyk. VOOR: Peewee Howe, Tommy Gentles, Pat Montini, Popeye Strydom, Jan du Preez.
AGTER: Wilf Rosenberg, Tom van Vollenhoven, Brian Pfaff, Jeremy Nel, Clive Ulyate, Paul Johnstone. DERDE RY: Roy Dryburgh, Ian Kirkpatrick, Daan Retief, Johan Claassen, Piet du Toit, Chris de Wilzem, Jan du Preez. TWEEDE RY: Butch Lochner, Melt Hanekom, Harry Newton Walker, Chris de Nysschen, Dawie Ackermann, Jan Pickard, Basie van Wyk, Bertus van der Merwe. SITTENDE: Chris Koch,Jaap Bekker, Danie Craven (Bestuurder), Basie Viviers (Kaptein), Dan de Villiers (Onder-Bestuurder), Salty du Rand, Johnny Buchler. VOOR: Peewee Howe, Tommy Gentles, Pat Montini, Popeye Strydom.
Dit was die eerste keer dat die Springbok rugbyspan per vliegtuig na enige land gereis het op 'n oorsese toer. Op alle vorige oorsese toere het hulle per skip gereis.
DIE AUSTRALIESE BEEN VAN DIE TOER
AGTER: Keith Cross, Nick Shehadie, Tony Miller, John Solomon (Afrigter), Garth Jones, Mac Hughes, Colin Forbes. SITTENDE: Jim Brown, John Thornett, Alan Cameron (Kaptein), Ross Shiel, Saxon White. VOOR: Rod Phelps, Cyril Burke, John O'Neill. INLAS: Jim Phipps.
AGTER: Butch Lochner, Daan Retief, Johan Claassen, Dawie Ackermann, Chris Koch, Jeremy Nel. SITTENDE: Paul Johnstone, Bertus van der Merwe, Jaap Bekker, Basie Viviers (Kaptein), Salty du Rand, Brian Pfaff, Pat Montini. VOOR: Tom van Vollenhoven, Popeye Strydom.
(68) Australië, Saterdag 26 Mei 1956
Sydney Krieket Gronde, Sydney - Eerste Toets
Suid Afrika 9, Australië 0
Toeskouers (36 000)
Skeidsregter: R. Vanderfield (Australië)
EERSTE HELFTE:
Om die eerste toets wedstryd na net twee weke op toer te speel en boonop party sleutelspelers nie kon gebruik nie as gevolg van beserings, was 'n hoë hekkie vir die Springbokke om oor te kom. Vier nuwe spelers het hulle debuut gemaak naamlik, Brian Pfaff, Pat Montini, Jeremy Nel en Basie Viviers, die kaptein. Daar was darem wel 'n paar ou hande ook in die span soos Chris Koch en Salty du Rand wat hulle sestiende toets gespeel het asook Jaap Bekker met sy tiende. Die Wallabies moes in wit truie speel omdat hul gebruiklike groen truie met die van die Springbokke sou gebots het. Dit was dieselfde tendens toe die Wallabies laas in Suid Afrika gespeel het in 1953 behalwe toe moes die Springbokke as gasheer land, in wit truie gespeel het.
Die Springbokke het teen 'n stewige wind in die eerste helfte gespeel maar vroeg vêr gevorder toe Van Vollenhoven mooi gehardloop het en vir Johnstone gegee het wat weer vir Ackermann gegee het. Die stewige flank het soos 'n vleuel afgesit doellyn toe maar sy laaste aangee na Lochner het verlore gegaan en 'n sekere drie was verbrou. Toe kom die Wallabies terug met 'n dribbelloop veldop en Van Vollenhoven moes red met 'n buitelyn skop. Brian Pfaff moes toe die veld verlaat met 'n besering.
Die Springbokke het meeste aanvalle gedoen en binne die Wallabies se gebied gebly vir lang rukke maar kon net nie deurkom nie. Vir die Springbokke het die besering's spook gery toe Pat Montini ook beseer was na een van sy mooi breekslaë op die Wallabies se "25". Hy kon gelukkig weer voortspeel, maar Pfaff was nog van die veld af. Voordat Pfaff uiteindelik weer op die veld verskyn het met sy knie verbind, het Australië twee keer amper punte aangeteken.
Die Springbokke was weer diep binne Australië se gebied toe Dawie Ackermann weer kans kry met die bal maar hy was op die hoekvlag uitgeduik wat beslis gelyk het na 'n gevaarlike hoogvat deur 'n Wallabie speler. Net toe dit lyk of daar geen telling voor rustyd gaan wees nie, kry Jeremy Nel die bal van Butch Lochner en met 'n pypkan (dummy) van hy die verdediging op die verkeerde voet en hy sny toe in en gaan druk naby die hoekvlag. Viviers kon nie slaag met die vervyfskop nie (3-0). Dit was dan ook die rustyd telling.
TWEEDE HELFTE:
Die Springbokke het die tweede helfte begin sonder Chris Koch wat behandeling ontvang het vir 'n knie besering terwyl Pfaff net 'n passasier was en as tweede heelagter rond gehuppel het. Binne die eerste twee minute het Australië op hulle "25" gefouteer en Basie Viviers het die waardevolle strafskop oorgesit (6-0). Die volgende punte het weer aan Suid Afrika behoort toe hulle vanuit hulle eie gebied 'n beweging begin het. Jeremy Nel het die bal oor die koppe gegooi na Lochner wat in die middel opgeduik het. Van Vollenhoven het toe ingesny en toe hy vasgevat word, het hy laat loop na Daan Retief en met die verdediging uitgedun het hy oopgelê doellyn toe. Met Phelps en O'Neill wat aan hom gehang het, het hy die doellyn gehaal en naby die hoekvlag oorgegaan vir sy welverdiende drie. Viviers kon nie slaag met die vervyfskop nie (9-0).
(69) Australië, Saterdag 2 Junie 1956
Uitstallings Gronde, Brisbane - Tweede Toets
Suid Afrika 9, Australië 0
Toeskouers (22 000)
Skeidsregter: T.W. Moore (Australië)
STAANDE: Butch Lochner, Daan Retief, Harry Newton Walker, Johan Claassen, Dawie Ackermann, Jeremy Nel, Roy Dryburgh, Johnny Buchler. SITTENDE: Tom van Vollenhoven, Bertus van der Merwe, Danie Craven (Bestuurder), Basie Viviers (Kaptein), Dan de Villiers (Onder-Bestuurder), Salty du Rand, Daan Bekker. VOOR: Pat Montini, Popeye Strydom.
EERSTE HELFTE:
Australië het verkies om eerste teen die wind te speel en toe die Springbokke vroeg onkant gaan was Roberts se skop skeef. Daar was vyf stafskoppe toegeken binne die eerste vyf minute. Die Wallabies se agterspelers se taktiek was om baie vlak te lê en sodoende die Springbok agterspelers min beweegruimte te gee. Die voorspeler pak van Australië het goed gestaan teen die Springbokke en hulle reputasie van gedugte teenstaanders teen die All Blacks gestand gedoen. Die losvoorspelers van Australië het die binne agterspelers van die Springbokke in toom gehou deur vinnig op te kom en die stadige bal van die Springbokke uit te buit.
Daar was groot opwinding vir Springbok ondersteuners toe Popeye Strydom om die skrum gebreek het en kort voor die doellyn neergetrek was. Daar was nie baie te kies tussen die twee spanne nie alhoewel die Springbokke tog gebiedsvoordeel geniet het. Spoed het ontbreek tussen die Springbok skakelpaar en dit het bygedra dat daar nie baie goeie agterlyn bewegings was nie. Basie Viviers, gewoonlik 'n heelagter, was in die belangrike losskakel posisie en miskien was dit 'n fout aangesien hy nie so vinnig sy agterlyn kon wegkry nie. Popeye Strydom het waarskynlik die tekortkoming gesien en op die regte tye eerder gebreek en hy het 'n uitstekende toets wedstryd gespeel.
Springbok flank, Daan Retief het 'n baie goeie wedstryd gehad, sy beste op toer sover. Hy het dikwels spel na die agterlyn gevat en ook baie goed by hulle aangesluit om te ondersteun. Sy eie drie het ook so gekom. Hy was by toe die Wallabies se Saxton White met die bal in besit betrap is binne sy kwartgebied en Retief het die bal afgevat en hy was oor vir sy drie nog voordat enige Wallabie by hom kon kom. Roy Dryburgh kon nie die vervyfskop oorsit nie (3-0). Net hierna het die rustyd fluitjie geblaas.
TWEEDE HELFTE:
Salty du Rand kon weer sy plek inneem nadat sy beseerde ribbes verbind was halftyd en die Springbokke was gou weer in die Wallabies se helfte maar kon nie deurkom nie. Basie Viviers kon ook nie met 'n betreklik maklike strafskop slaag nie. Daarna het Tom van Vollenhoven weggebars en Dryburgh, Ackermann en Retief het mooi hanteer en 'n drie het na 'n moontlikheid gelyk. Terwyl Retief oor die lyn gegaan het is die bal uit sy hande gegryp deur Hughes wat tot Australië se redding gekom het.
Weer het Suid Afrika aangeval en Montini het die rigting verander en aan die steelkant van 'n skrum om gehardloop om vir Dryburgh te gee wat naby die hoekvlag uitgestamp was. Dryburgh se kans het hierna gekom toe Strydom vanaf 'n skrum op sy eie tien-treë lyn gebreek het en vir Ackermann in besit gestel het. Ackermann het tot naby die doellyn gevorder en toe vir Dryburgh gegee wat naby die hoekvlag oor is vir sy drie. Basie Viviers het net-net met die vervyfskop gemis (6-0).
Net hierna het Popeye Strydom weer om die skrum gebreek maar 'n tekort aan ondersteuning het sy poging in die wiele gery. Strydom het meer as gewoonlik van die taktiek gebruik gemaak om te breek omdat sy agterlyn nie glad beweeg het wanneer hy wel na hulle laat loop het nie. Die Australiese agterlyn het 'n houvas op die Springbokke gehad. Suid Afrika het onverwags en al in beseringstyd die laaste punte aangeteken toe Basie Viviers die bal kry vanaf 'n skrum en aan Tom van Vollenhoven gee. Van Vollenhoven het vasgesteek en 'n lang skepskop deur die pale gejaag om die eindtelling 9-0 te maak.
DIE NIEU SEELANDSE BEEN VAN DIE TOER
Die hele Nieu Seeland het gewag vir die oomblik dat die Springbokke se vliegtuig moes land om die toer van alle toere te begin. Groot was die afwagting by almal oor die toer van 1956 want die neerlae van 1937 (reeks) en die 4-0 pak slae wat die All Blacks van Fred Allen in 1949 in Suid Afrika gekry het, moes gewreek word, ten alle koste. Die toer het nie goed begin in Nieu Seeland nie want die Springbokke het hulle heel eerste wedstryd teen Waikato verloor.
(70) Nieu Seeland, Saterdag 14 Julie 1956
Carisbrook, Dunedin - Eerste Toets
Suid Afrika 6, Nieu Seeland 10
Toeskouers (39 300)
Skeidsregter: F.G. M. Parkinson (Nieu Seeland)
AGTER: Clive Ulyate, Jeremy Nel, Daan Retief, Johan Claassen, Roy Dryburgh, Butch Lochner, Paul Johnstone. MIDDEL: Dawie Ackermann, Bertus van der Merwe, Salty du Rand (Kaptein), Jaap Bekker, Harry Newton Walker. VOOR: Jan du Preez, Popeye Strydom, Peewee Howe.
AGTER: Ponty Reid (reserwe), Denis Young (reserwe), Bill Gray, Mark Irwin, Don McIntosh, John Buxton, Morrie Dixon, Ron Jarden. MIDDEL: R.C. Stewart (keurder), Robin Archer, J.R. Watt (reserwe), Tiny White, Nev McEwan (reserwe), Tiny Hill, Peter Jones (reserwe), Ron Hemi, Ross Brown, J.L. Sullivan (keurder). SITTENDE: A.F. Marslin (keurder), Pat Walsh, Pat Vincent (kaptein), L.V. Carmine (Bestuurder), Bob Duff (onder-kaptein), Ian Clarke, T.C. Morrison (keurder).
Crown Studios Collection - Alexander Turnbull Library, Wellington, N.Z.
EERSTE HELFTE:
As daar ooit 'n toets wedstryd was wat Suid Afrika moes gewen het maar dit nie gedoen het nie, dan was dit hierdie eerste toets teen Nieu Seeland in 1956. Vir die grootste gedeelte van die wedstryd het die Springbokke die botoon gevoer. Vroeg in die wedstryd het Roy Dryburgh 'n lang strafskop probeer maar die bal het die regoppaal getref en terug gespring. Hy het egter geen fout gemaak toe die All Blacks na sewe minute onkant gegaan het in hulle eie "25" nie en sy strafskop het dit 3-0 gemaak.
Hierna het Dixon amper gaan druk toe hy 'n swak aangee van Ackermann na sy agterlyn optel en naby die doellyn gestuit is. Die All Blacks het aangeval en met hulle "up-and under" taktiek die Springbokke vasgepen in hulle eie gebied. Jarden het 'n sterk lopie ingekry en was amper deur as dit nie was vir goeie verdediging nie.
Naby aan rustyd het die Springbokke weer strafskoppe afgestaan en Dryburgh is in besit betrap in 'n los gemaal nadat Lochner se "merk" nie deur die skeidsregter gesien is nie en hy onderstebo geloop is. Tiny White het die los bal opgetel en deurgebars vir 'n drie wat deur Jarden vervyf is (3-5).
Net voor halftyd was die All Blacks weer op die aanval maar die Springbokke het terug geslaan en met 'n mooi beweging so goed gevorder dat 'n seker drie 'n moontlikheid was, maar die laaste aangee is deur die vinnige All Black vleuel Ron Jarden onderskep was ongehinderd deur gehardloop het en onder die pale gaan druk het en toe sy eie drie vervyf het om die All Blacks met rustyd met 10-3 te laat voorloop. Hierdie was 'n geweldige terugslag vir die Springbokke so naby aan rustyd.
Eers het Butch Lochner seergekry en alhoewel hy op die veld gebly het, was hy eintlik net 'n passasier. Net voor rustyd is Dawie Ackermann van die veld af gedra met 'n besering. Om die situasie nog verder te vererger, is Jan du Preez net na rustyd ook afgedra met 'n gebreekte been besering en die Springbokke het dus eintlik met net twaalf spelers gespeel.
TWEEDE HELFTE:
Die Springbokke met twee en 'n half man kort het soos 'n vol span gespeel en die All Blacks moes keer om nie punte af te staan nie. Intussen het Irwin van Nieu Seeland ook die veld verlaat met 'n besering. Clive Ulyate het die Springbokke op die aanval gehou met lang skoppe na die kantlyn. Paul Johnstone het een keer amper gedruk toe Walsh nie die bal onder beheer kon kry agter sy eie doellyn nie. Toe het Peewee Howe mooi gehardloop en is eers vyf treë van die All Blacks se doellyn uitgestamp.
Toe kom die mooiste drie van die toets. Na 'n volle agterlyn beweging was dit Springbok vleuel Paul Johnstone was die bal gekry het en toe die verdediging vir hom gaan, hy die bal terug aangegee het na Peewee Howe wat deur was en oorgeduik het vir sy drie. Dryburgh kon egter nie die drie vervyf nie (6-10). Die All Blacks het op 'n streep agter Howe gelê soos hulle probeer het om hom te keer.
Hierna het die All Blacks weer aangeval toe Archer vorentoe geskop het en Gray die bal op volspoed gekry het en op loop gegaan het. Hy het onder die verdediging uit gehardloop maar sy aangee na Jarden was vorentoe en alhoewel Jarden gaan druk het, is hulle terug geroep. Die laaste ruk voor die einde het altwee spanne desperaat probeer punte aanteken of verdedig maar Suid Afrika het sterk geëndig toe die All Blacks gereeld die kantlyn moes opsoek.
MEDIA VERSLAE:
Na die eerste toets was daar gemengde gevoelens in die media oor beide spanne. Die opskrif van "News Sports Special" was: "ALL BLACKS BEAT BOKS 10-6 - thirteen South Africans go down fighting". "Star-Sun" (Christchurch) skryf: Daar was twee redes hoekom Nieu Seeland gewen het, eerstens omdat hulle die twee kanse om drieë aan te teken ten volle benut het en omdat hulle die Springbok agterlyn gedwing het om skuins oor die veld te beweeg.
Die blad gee ook spesiale vermelding en lof aan Johan Claassen: "Hy is die grootste voorspeler in skrums, lynstane en losskrums wat op Nieu Seelandse velde gesien is".
Daar was ongeveer veertig duisend toeskouers wat op Carisbrook in Dunedin toegesak het en deur die nag in die koue gewag het en teen agtuur die Saterdag oggend, was daar reeds 15 000 toeskouers voor die hekke. Teen elfuur was daar 30 000 mense rondom die veld en toe die hekke om 12:30 toegemaak moes word, moes honderde toeskouers teleugesteld omdraai.
FOTOBEELD:
(71) Nieu Seeland, Saterdag 4 Augustus 1956
Athletic Park, Wellington - Tweede Toets
Suid Afrika 8, Nieu Seeland 3
Toeskouers (47 500)
Skeidsregter: F.G. M. Parkinson (Nieu Seeland)
AGTER: Clive Ulyate, Ian Kirkpatrick, James Starke, Butch Lochner, Johan Claassen, Danie Craven (Bestuurder), Jan Pickard, Jeremy Nel, Theuns Briers, Daan Retief. SITTENDE: Tommy Gentles, Chris Koch, Salty du Rand, Basie Viviers (Kaptein), Bertus van der Merwe, Jaap Bekker, Paul Johnstone. (Starke het nie gespeel nie).
Crown Studios Collection - Alexander Turnbull Library, Wellington, N.Z.
Mense het van heinde en vêrre gekom vir die tweede toets van die belangrike 1956 reeks teen Nieu Seeland in Wellington. Dit was bitter koud maar die winter's weer het nie die mense se entoesiasme gedemp nie. Buite die stadion, Athletic Park is daar gekamp en bed gemaak al die vorige aand sodat toeskouers wat die toets wou sien, van die eerstes deur die hekke kon gaan die Saterdag oggend. Onthou, daar was nie televisie nie, net radio en dis een van die groot redes vir die geweldige belangstelling wat daar by al die toetse was om die drama self te beleef.
EERSTE HELFTE:
Op 'n koue winderige dag het Suid Afrika eerste teen die wind gespeel en alhoewel die veld nat was van die vorige reëns was dit nie te modderig nie. Die All Blacks het ingeklim van meet af en met hulle nuwe taktiek van hoogskop en storm moes die Springbokke en Basie Viviers op heelagter bontstaan om al die gate toe te stop. Toe probeer Ron Jarden 'n strafskop van 'n maklike posisie op die Springbok kwartlyn, maar hy mis.
Die eerste punte het aan Nieu Seeland behoort toe Pat Walsh in die twaalfde minuut weer hoogskop en die Springbokke in die wind mistas. Senter Bill Gray was by om die bal te gryp en vir Ross Brown oor te stuur vir 'n drie wat Jarden weer nie kon vervyf nie (0-3). Daar was egter kalmte onder die Springbokke en Claassen, Du Rand en sy voorspelers het voorlangs die All Blacks laat les opsê. Maar eers na vieftien minute kom die Springbokke in die halfgebied van die All Blacks.
So byna kom Gentles deur maar word gekeer en Suid Afrika word gestraf. Lang skoppe saam met die wind help egter die All Blacks om weer in die Springbokke se gebied te kom. Vleuel Brown glip deur en gooi vir Dixon wat oorduik, maar sy aangee was vorentoe en die skeidsregter Mnr. Parkinson roep hulle terug.
Jarden het met nog twee strafskoppe pale toe misluk, een was redelik maklik. Die All Blacks het alhoewel hulle saam met 'n sterk wind gespeel het, nie genoegsaam punte opgebou in die eerste helfte om die Springbokke met vrees te vul nie. Redes vir hulle swak spel was dat die voorry gesukkel het teen die Springbokke, hul kanse saam met die wind het hulle met doellose skoppe weggegooi en die Springbokspan wat met mening ingeklim en verdedig het. So ook het skrumskakel en kaptein Vincent sy driekwarte stadig weggekry en dit het die vloei van spel belemmer. Dit was rustyd met die All Blacks net drie punte voor.
TWEEDE HELFTE:
Die bordjies word nou vervang en die Springbokke het nou die voordeel van die sterk wind van agter. Die stadige swak diens agter die All Black pak word ook nou behoorlik uitgebuit deur Butch Lochner wat die skakelpaar vasvat.
Kort na die begin van die tweede helfte is dit Clive Ulyate wat die bal naby die All Blacks se doellyn uitskop. Na die lynstaan ontstaan 'n losskrum en Gentles kry die bal en soos blits glip hy deur en besorg die bal aan Daan Retief, Springbok agsteman wat deur die All Blacks duik vir sy drie. Basie Viviers vervyf vanaf naby die kantlyn met sterk wind en al om dit 5-3 te maak.
Die Springbokke het van toe af aangeval en Paul Johnstone was oppad hoekvlag toe maar Brown het hom gestuit. In die sterk wind kon die Springbokke nie twee strafskoppe oorkry nie. Die All Blacks het aangeval met 'n hoë skop wat Tiny White in die hande gekry het maar die Springbokke het sy beweging gesmoor. Die All Blacks het toe oortree en Viviers het verligting gebring met 'n lang buitelyn skop.
Weer is die Springbokke op die aanval en weer breek klein Gentles en laat loop na Salty du Rand aan sy binnekant wat oorgaan en sy drie druk. Ongelukkig kon Viviers nie vir die Springbokke vervyf nie maar hulle was nou 8-3 voor.
Die All Blacks kry toe die bal en Dixon kom in die agterlyn en bewerkstellig 'n ekstra man oor. Die bal is in die hande van die vinnige Jarden wat ooplê doellyn toe, maar helaas word hy vasgekeer. Hy skop toe dwars vir sy voorspelers maar daar kom 'n strafskop teen hulle en 'n sekere drie gaan verlore.
Voor die einde van die toets is Jaap Bekker en Salty du Rand van die veld af met beserings. Jaap Bekker kon na die tyd 'n groot gedeelte van die toets nie onthou nie (sien video greep). Hy vertel dat dit gebeur het toe die All Blacks gereeld die skrum laat val het en toe het Bob Duff se skoen teen sy kop beland wat die bloed veroorsaak het. Net hierna het die eindfluitjie geblaas met Suid Afrika wat die belangrike tweede toets gewen het met 8-3.
Die foto regs was nie na die derde toets geneem soos baie mense dink nie, maar wel na die tweede toets. Daar was bespiegel dat dit die foto was nadat Kevin Skinner die Springbok voorrymanne met die vuis bygekom het in die skrums, maar Skinner het eers in die derde toets gespeel.
Video: Onderhoud deur Pierre Marais met Jaap Bekker
FOTOBEELD:
(72) Nieu Seeland, Saterdag 18 Augustus 1956
Lancaster Park, Christchurch - Derde Toets
Suid Afrika 10, Nieu Seeland 17
Toeskouers (51 500)
Skeidsregter: W.H. Fright (Nieu Seeland)
AGTER: Theuns Briers, Butch Lochner, Daan Retief, Johan Claassen, Dawie Ackermann, Jeremy Nel, James Starke, Roy Dryburgh. SITTENDE: Clive Ulyate, Chris Koch, Basie Viviers (Kaptein), Danie Craven (Bestuurder/Afrigter), Salty du Rand, Bertus van der Merwe, Jaap Bekker. VOOR: Tom van Vollenhoven, Peewee Howe, Tommy Gentles, Wilf Rosenberg.
AGTER: Bill Clark, Don McIntosh, Tiny White, Nev McEwan, Peter Jones, Tiny Hill, John Buxton. STAANDE: Robin Archer, Ross Brown, Kevin Skinner, Don Clarke, Ron Hemi, Bill Gray, Ian Clarke, Pat Walsh. SITTENDE: Ron Jarden, C.R. Stewart (Afrigter), T.C. Morrison (Keurder), Bob Duff (Kaptein), L.V. Carmine (Bestuurder), Ponty Reid (Onder-Kaptein), A. Marslin (Keurder), J.L. Sullivan (Keurder), Morrie Dixon. VOOR: Denis Young, Keith Davis.
Ek dink baie rugby entoesiaste wat die spel van die amateur era gevolg het, sal al gehoor het van die berugte derde toets in Nieu Seeland in 1956. Soos ons weet en dis geen geheim nie, het Nieu Seeland hulle tande geslyp vir die Springbokke oor die vorige nederlae wat hulle gelei het. Dit bring my by die stelling wat gemaak is dat die All Blacks net eenvoudig moes wen, "teen alle koste."
Die belangrike derde toets moes dus gewen word want die reeks was gelykop met 1-1. Dis ook geen geheim dat die Springbokke se pak voorspelers die All Blacks oor was in die skrums nie en hulle menige kere terug gestoot het as gevolg van hulle sterker skrumkrag. Die All Blacks het toe as teenvoeter vir Kevin Skinner, die voormalige swaargewig bokskampioen van Nieu Seeland teruggebring om die Bokke "sag" te maak voorlangs. Eers het hy met Chris Koch se gal gewerk en toe vir Jaap Bekker bloedneus geslaan.
Watse uitwerking het dit op die uitslag van die toets gehad? Ons weet dat die Springbokke die toets verloor het en dit nadat hulle die tweede toets gewen het en in die algemeen, waaronder die skrums, beter daaraan toe was as die All Blacks. Wat het dan in hierdie toets skeef geloop? Wel die All Blacks met sewe veranderinge, het hulle span beslis versterk. Hoe groot die invloed van Kevin Skinner was met sy intimiderede "taktiek", kan seker nog lank oor gepraat word.
EERSTE HELFTE:
In mooiweer toestande, tipies waaraan Suid Afrika gewoond is, was dit Clive Ulyate wat in sonskynweer afgeskop het maar gou was hulle terug in eie gebied toe nuweling heelagter, Don Clarke hulle met 'n geweldige lynskop terug gejaag het. Net hierna het Clarke die eerste punte vir Nieu Seeland op die telbord geplaas met 'n lang strafskop (0-3). Dit was nie lank hierna nie of die All Blacks kry 'n strafskop reg voor die pale en weer maak Clarke geen fout nie (0-6).
Die Springbokke het gesteier onder die aanslag van Clarke se buitelyn skoppe wat hulle telkens vêr terug gedryf het. Hy was ook indirek verantwoordelik vir die All Blacks se volgende punte toe hy weer 'n lang skop veldop gelos het. In die los spel het Ponty Reid, die skrumskakel die bal gekry en om die steelkant beweeg en 'n lang aangee na Gray gegee. Gray het vir Brown gegee wat weer vinnig na Morrie Dixon laat loop het en met die Springbokke se verdedigers in die war en aan die terugval, het Dixon naby die hoekvlag gaan druk. Weer het Clarke se vervyfskop die kol getref en skielik was die All Blacks met 11-0 voor.
Net voor die drie van Dixon was dit die Springbok losvoorspelers wat weggebars het en vir Theuns Briers oorgestuur het maar 'n vorentoe aangee het 'n seker vyf punte laat verlore gaan. Net voor rustyd is Peter Jones van die veld gedra met 'n besering. Na behandeling vir sy seer knie is hy weer op die veld. Die All Blacks het die eerste helfte heeltemal oorheers en hier moet die name van hul voorspelers genoem word. Manne soos Tiny Hill, Tiny White en Peter Jones het wigte ingedryf in die Springbokke se verdediging . Don Clarke het van die heelagter posisie telkens 50 treë veld gewen met allemintige lang lynskoppe wat die Springbokke onder druk gehou het. Rustyd het aangebreek met die All Blacks met 11 punte voor. Dis feitlik 'n onbegonne taak teen so 'n geduge span soos die All Blacks.
TWEEDE HELFTE:
Die Springbokke begin die tweede helfte op 'n positiewe noot toe die agterlyn mooi hanteer, maar die bal gaan verlore tussen die senters. Toe val die All Blacks weer aan en Dixon se dwarsskop eindig amper weer in punte. Na twaalf minute in die tweede helfte kry Suid Afrika vir die eerste keer in die toets wel punte. Dawie Ackermann en Clive Ulyate laat de All Blacks twyfel met 'n skielike skêr-beweging en die bal kom na Van Vollenhoven. Hy sit met spoed af doellyn toe en Butch Lochner sluit aan sy buitekant by hom aan, kry die bal van Tom en gaan oor vir 'n uitstekende mooi drie. Viviers se vervyfskop uit die skuins hoek tref die paal maar spring tog oor om die telling 5-11 te maak.
Die Spingbokke speel heelwat beter in die tweede helfte en loods aanvalle maar hanteer foute keer dat hulle punte aanteken. In die losskrums het dit rof gegaan met Skinner aan die voorpunt met vuiste wat geklap het, het hy eerder na die bokskryt verlang as om te kyk waar die bal is.
Toe kom die mooiste drie van die toets en word deur Suid Afrika gedruk. Dit was klein Tommy Gentles wat dit begin het toe hy van agter 'n losskrum begin hardloop het en toe vir Ackermann gegee het. Hy het weer na Jaap Bekker laat loop en hy storm voort doellyn toe. Toe hy vasgevat word, draai hy rug en gee vir Salty du Rand wat die bal oor die koppe van All Blacks gooi in die hande van Wilf Rosenberg. Rosenberg hardloop tussen die All Blacks deur en duik sierlik oor agter die pale vir sy mooi drie wat Basie Viviers vervyf en skielik is dit 11-10 in die guns van die All Blacks nadat hulle met 11-0 voor geloop het.
Met vyftien minute oor is dit nog enige span se wen en toe Lochner onkant betrap word op sy eie kwartlyn, mik Clarke weer pale toe maar mis die maklike skop. Peter Jones wat beseer was is weer heel reg en speel klipharde rugby. Agt minute voor die einde slaan die Springbokke weer met die agterlyn en twee keer word die bal laat val en swak afronding kelder weer kanse vir punte.
Drie minute oor en Ross Brown stuur 'n sekuur skop hoekvlag toe waar Briers en Viviers hardloop om by die bal te kom, maar uit die niet verskyn Ron Jarden van die All Blacks en die bal spring verkeerd vir die Springbokke en in die hande van Jarden wat oorgaan vir sy drie. Clarke kan hom nie vervyf nie maar die teeling groei na 14-10 vir die All Blacks. Nog is dit einde niet. Vanuit losspel kry Jones die bal en breek weg en pyl op die Springbokke se doellyn af. Toe hy voorgekeer word laat loop hy na Dixon op die vleuel wat 'n paar treë voor die doellyn vasgevat word maar die groot Tiny White is by ter ondersteuning en val oor die lyn vir die laaste drie wat Clarke ook nie kon oorskop nie. Die eindtelling vlei eintlik die All Blacks wat in die laaste paar minute twee drieë gekry het en Suid Afrika met 'n kilimanjaro berg gelos het om oor te kom vir die vierde toets om die reeks te red. All Blacks, 17 en Suid Afrika 10.
(73) Nieu Seeland, Saterdag 1 September 1956
Eden Park, Auckland - Vierde Toets
Suid Afrika 5, Nieu Seeland 11
Toeskouers (61 300)
Skeidsregter: W.H. Fright (Nieu Seeland)
AGTER: F.R. McMullen, Pat Walsh, Ron Hemi, Kevin Skinner, William Clark, Bill Gray, Dennis Young. STAANDE: Don Clarke, R.C. Stuart (Afrigter), Peter Jones, Tiny White, Nev McEwan, Tiny Hill, J.L. Sullivan (Keurder), Ron Jarden. SITTENDE: T.C. Morrison (Keurder), Ian Clarke, Bob Duff (Kaptein), L.V. Carmine (Bestuurder), Ponty Reid (Onder-Kaptein), Morrie Dixon, A. Marslin (Keurder). VOOR: Ross Brown, Keith Davis.
Die grootste skare mense wat nog 'n rugby wedstryd in Nieu Seeland bygewoon het, het Eden Park volgepak en meer as 60 000 mense het op elke moontlike sitplek (tot in die bome) rondom die veld 'n plekkie gevind om die finale toets van die 1956 reeks te sien. Suid Afrika moes wen om die reeks te deel. Het hulle dit reggekry? Volg die drama verder en vind uit.
EERSTE HELFTE:
In sonskyn weer het die Springbokke afgeskop maar die All Black voorspelers het dadelik beheer oorgeneem en die Sprinbokke moes kwaai verdedig. Die Springbokke het terug geveg en na 'n lynstaan het Popeye Strydom die bal gekry en goeie veld gewen maar is op die "25" van die All Blacks gestop. Jarden het hierna ook 'n mooi lopie ingekry vir die All Blacks. Na ongeveer sewe minute het Basie Viviers kans gekry om pale toe te skop maar 'n redelike maklike strafskop is verbrou.
Na die Springbokke onkant was by 'n skrum en vyf treë binne hul eie halfgebied, was dit weereens Don Clarke wat met 'n allermintige skop geslaag het (0-3). Die Springbokke het toe meer vasberade terug gekom en by twee geleenthede amper punte gekry maar die spring van die bal het dit verhoed. Spel het toe wipplank gery maar geen span kon punte kry nie. Eers was dit Dryburg en toe weer Clarke wat nie skoppe kon oorkry nie. Rustyd het aangebreek met die All Blacks voor met 3-0.
TWEEDE HELFTE:
Na net vyf minute in die tweede helfte kom 'n terugslag vir die Springbokke toe Ron Hemi van Nieu Seeland 'n los bal vanaf 'n lynstaan deurskop wat agterna gesit is deur groot Peter Jones en voordat heelagter Basie Viviers die bal kon vat, was dit Jones wat die bal voor sy neus weggeraap het en ongeveer 30 treë gehardloop het vir sy drie agter die pale met 'n Springbok om sy bene. Don Clarke het die maklike vervyfskop oorgestuur en dit was 8-0 vir die All Blacks.
Intussen het die All Blacks vleuel Ron Jarden behandeling ontvang vir sy besserde arm maar hy het weer terug gekeer om voort te speel. Die All Blacks het die losspel begin beheer en was voor die Springbokke by om bewegings verder te voer en sodoende waardevolle tyd sowel as besit in te palm. Die ander kenmerk van die spel en een wat die Springbokke se agterspelers onskadelik gelaat het, was dat die All Blacks 'n plan met Howe op losskakel gehad het en hom sodoende afgesny het van sy agterlyn.
Paul Johnstone het toe mooi gebreek en goed gevorder maar toe hy lastig geval word, het hy 'n dwarsskop gelos en Roy Dryburgh het wel by die bal gekom maar in sy poging om die bal te van het hy gestruikel en 'n kans was daarmee heen. Viviers het vir Howe en Johnstone omgeruil nadat Howe nie 'n gelukkige dag op losskakel beleef het nie. Theuns Briers is 'n slag kort van die lyn gestop en die Springbokke kon net nie punte kry nie. Tien minute voor die einde word Suid Afrika gestraf by 'n skrum en Don Clarke skop 'n yslikke langs strafskop deur die pale om die tlling op te stoot na 11-0 vir Nieu Seeland. Dis 'n onbegonne taak vir die Springbokke maar hulle gee nie moed op nie.
Dis 'n woeste gespook onder die voorspelers en na 'n lynstaan waarin die twee pakke mekaar feitlik te lyf gegaan het bly lê die groot Tiny White. Dit was 'n skop op sy rug wat in die hitte van die stryd deur een van die Springbokke uitgevoer was en wat 'n slegte nasmaak moes gelaat het veral toe White die veld moes verlaat.
Toe kom daar uiteindelik 'n opflikkering vir Suid Afrika in die vorm van punte toe Gray 'n kort skop deur die Springbokke vat en swakkerig aangee. Die aangee word deur Howe onderskep en hy gooi binnekant toe na Dryburgh wat deurhardloop en sy drie naby die pale gaan druk. Die vervyfskop deur Viviers was oor om die eindtelling op 5-11 vir Nieu Seeland te staan te bring. Nieu Seeland wen dus die reeks van vier toetse met 3-1 en hulle uitbundigheid om vir die eerste keer in sestig jaar 'n reeks teen Suid Afrika te wen, ken geen perke nie.
KOERANT OPSKRIFTE:
Die Nieu Seelandse koerante was dit eens dat die All Blacks uiteindelik bo was en hulle het dit in groot opskrifte uitbasuin. Drie hoofredes hoekom Suid Afrika verloor het is aangevoer, naamlik dat die All Blacks baas gespeel het in die losspel, dat Don Clarke se skopskoen 'n groot rol gespeel het en laastens dat die Springbok agterlyn net nie aan die gang kon kom nie. Dr. Danie Craven het gesê "hanteerfoute het ons die wedstryd gekos...die gehalte van ons vaste voorspel in Suid Afrika het klaarblyklik verswak. Nieu Seeland het gewen omdat die doeltreffendheid van die voorspel nog steeds die uitslag van 'n groot wedstryd bepaal en omdat dit betaal vir voorspelers om gehard en taai te wees"
Dr Danie Craven het na afloop van die finale toets op Eden Park, Auckland aan die reuse skare gesê: "It's all yours New Zealand".
Baie dankie Johan. Soos Johan Greyling se, baie besonders. Ek glo dis n passie vir jou, om die webblad so interresant te maak. Ek geniet die geskiedenis van die rugby. Dis lank voor my tyd, maar ek sal kan onthou so van 1967 se kant. Net jammer daar is nie so baie wat belang stel nie....
Johan jy is besig om iets besonders te skep. Baie dankie daarvoor.