Om net 1 uit 34 wedstryde op so 'n toer te verloor, insluitende vyf toetse wil gedoen wees. Wat meer is, as mens na die uitslae kyk is dit baie opmerklik dat net twee spanne tien of meer punte teen die Springbokke kon aanteken (10 en 11 punte). In 12 van die 34 wedstryde kon die Springbokke se opponente geen punte aanteken nie.
Die toerspan was aangekondig die aand van die laaste toets teen Nieu Seeland. Dit was die eerste keer dat 'n lang tuis-reeks opgevolg is met 'n lang toer oorsee in dieselfde jaar. Daarby was daar ook die kort toer van Skotland vroeër in die jaar 1960.
Geen Springbokspan het ooit vantevore in swakker toestande gespeel as die een teen Wallis nie. Sneeu gepaardgaande met 'n artiese yskoue wind het alle ander wedstryde gekanselleer behalwe die toets. Die wedstryd was gereeld gestop om die spelers kans te gee om die modder uit hul oë te spoel. Die dag na die toets het die rivier sy walle oorstroom en die watervlak op die speelveld het gestyg tot net onder die dwarslat van die pale.
Daar was twee plaasvervangers uit Suid Afrika aangevra toe daar gedink was dat Abie Malan nie weer op toer sou speel nie en Hennie van Zyl het na Suid Afrika terug gekeer vir die begrafnis van sy pa. Ben-Piet van Zyl en Bobby Johns was die plaasvervangers.
Die toerspan het per skip na Britanje gereis maar per vliegtuig na Suid Afrika terug gekeer en een wedstryd teen Oos-Afrika in Nairobi gespeel.
AGTER: Frik du Preez, Hugo van Zyl, Attie Baard, Piet van Zyl, Hennie van Zyl, Stompie van der Merwe, Dave Stewart, Martin Pelser, Mike Antelme. STAANDE: Ronnie Hill, Abie Malan, John Gainsford, Jannie Engelbrecht, Hannes Botha, Mof Myburgh, Doug Hopwood, Lionel Wilson, Doug Holton, Fanie Kuhn. SITTENDE: Johan Claassen, Ian Kirkpatrick, Avril Malan (Kaptein), Ferdie Bergh (Bestuurder), Dick Lockyear (Onder-Kaptein), Boy Louw (Onder-Bestuurder), Piet du Toit. VOOR: Charlie Nimb, Piet Uys, Mannetjies Roux, Bennie van Niekerk, Keith Oxlee, Giepie Wentzel.
(81) Britanje, Saterdag 3 Desember 1960
Arms Park, Cardiff - Eerste Toets
Suid Afrika 3, Wallis 0
Toeskouers (53 000)
Skeidsregter: JAS Taylor (Skotland)
AGTER: Keith Oxlee, Ronnie Hill, Jannie Engelbrecht, Doug Hopwood, Hugo van Zyl, John Gainsford, Fanie Kuhn, Mannetjies Roux. SITTENDE: Martin Pelser, Johan Claassen, Boy Louw (Assistent-Bestuurder), Avril Malan (Kaptein), Ferdie Bergh (Bestuurder), Ian Kirkpatrick, Piet du Toit. VOOR: Lionel Wilson, Piet Uys.
EERSTE HELFTE:
Dit was reën en nogmaals reën gepaard met 'n sterk koue wind wat spelers, skeidsregter, lynregters en die groot skare passievolle toeskouers trotseer het toe die Walliese volkslied gesing is voor die begin van die eerste toets wedstryd op die 1960-61 toer. Die toeskouers was al deurdrenk van die reën nog voordat hulle sitplek kon inneem.
Die kaptein van Wallis het die loot gewen en besluit om in die eerste helfte teen die storm-sterk wind in te speel en was van meet af onder druk en moes vyf keer dooddruk in net soveel minute. In die afwesigheid van Lockyear as stelskopper, moes Oxlee waarneem maar hy het met sy eerste twee pogings misluk. Kaptein Malan het toe vir Wilson gebruik om die Walliesers met hoë hang-skoppe te toets wat 'n paar keer gevaarlik vir Wallis binne hulle "25" grond gevat het en net goeie verdediging en geluk het punte teen Wallis weerhou.
Na twintig minute is die Walliese skrumskakel weer gestraf by die skrum en die keer het Oxlee die bal voor die pale gestel van so 20 treë af. Kirkpatrick het die bal in die wind vasgehou vir Oxlee wat die enigste skop en punte van die toets wedstryd kon aanteken (3-0). Dit was nie ongewoon in daardie dae dat sulke lae tellings aangeteken was wanneer sulke moeilike omstandighede (reën, modder en wind) geheers het nie. Die velde het nie water weggedreineer soos vandag nie en grasperke het in moerasse verander wat dit feitlik onmoontlik gemaak het om te speel, wat nog te sê om punte aan te teken.
Die Walliesers het eers probeer met 'n strafskop teen die wind maar nodeloos om te sê, die wind het die bal weggedruk. Daarna het Evans en Prosser hard probeer om by die doellyn uit te kom maar sonder sukses. Hulle pogings was luidkeels deur die skare aangemoedig. Maak nie saak of die toeskouers papnat van hulle kop tot tone in die water gestaan het nie. Die Walliesers is 'n trotse rugby nasie wat deur duk-en dun by hulle spelers staan. Voor rustyd het Oxlee weer probeer maar sy skop was wyd. Die gevoel was dat met net 3-0 voor, Suid Afrika meer punte moes gehad het omdat hulle saam met die sterk wind gespeel het.
TWEEDE HELFTE:
Die Walliesers het diep afgeskop en het dadelik met die wind van agter aangeval. Losskakel Richards het vasgetrap en 'n skepskop gemik maar die bal het verby geseil. Vanaf 'n daaropvolgende lynstaan was dit slot Harris van Wallis wat voor om die lynstaan gebars het en oor was maar die skeidsregeter het 'n inskop beveel, alhoewel die bal onder hom was en dit eintlik 'n drie moes gewees het. Dus was hierdie 'n keerpunt in die wedstryd en die Springbokke het uit hulle "25" gekom met goeie lynstaanwerk en losgemale asook akkurate lynskoppe. Hulle het al langs die regterkantse kantlyn beweeg en kamp opgeslaan net buite Wallis se '25' vir ongeveer vyftien tot twintig minute.
Die Springbokke het die bal onder die pak voorspelers gehou en sodoende Wallis se pak uitgeput en gesorg dat hulle nie kanse kry om punte aan te teken nie. Dit was harde en onaantreklike rugby maar onder die omstandighede die regte taktiese besluit. Wallis het teen die einde weer probeer aanval maar hul balbesit was oorheers deur die Springbokke wat die skrums en losgemale gewen het. Omdat die skrum te sterk was vir Wallis kon Doug Hopwood meer los speel en vir Piet Uys (in sy debuut toets) help agter die skrum, waarvandaan Hopwood menige keer vorentoe gedryf het met groot welslae.
Merkwaardig was dat die skeidsregter so vyftien minute voor die einde vir die Walliese kaptein Davies gevra het of hy die eindfluitjie kan blaas omdat hy nie die kantlyne en doellyn in die modder toestande kon sien nie. Die spelers was ook haas onuitkenbaar en met modder bedek. Davies wou niks weet nie en het gevra dat spel voortgaan. Geen punte behalwe die enkele strafskop deur Oxlee is aangeteken nie en die modderbad toets het tot 'n einde gekom met die Springbokke nog onoorwonne op toer (3-0).
(82) Britanje, Saterdag 17 Desember 1960
Landsdowne Road, Dublin- Tweede Toets
Suid Afrika 8, Ierland 3
Toeskouers (40 000)
Skeidsregter: G.J. Treharne (Wallis)
AGTER: Fanie Kuhn, John Gainsford, Attie Baard, Hennie van Zyl, Jannie Engelbrecht, Martin Pelser, Hugo van Zyl, Ronnie Hill. SITTENDE: Johan Claassen, Dick Lockyear, Ferdie Bergh (Bestuurder), Avril Malan (Kaptein), Boy Louw (Onder-Bestuurder), Ian Kirkpatrick, Piet du Toit. VOOR: Keith Oxlee, Lionel Wilson.
EERSTE HELFTE:
Ierland het met wit truie gespeel soos dit die gebruik geword het wanneer internasionale spanne met soortgelyke kleure in truie teen mekaar speel, dan sal die tuisspan in wit truie speel om verwarring te voorkom. Gedurende die eerste twintig minute het Suid Afrika mooi aangeval en baie gebruik gemaak van hulle agterlyn. Na 'n halwe-breek deur Oxlee is Gainsford geduik net toe hy die bal ontvang en die bal was verlore. Toe was dit Kirkpatrick met 'n dwarsskop maar die Ierse heelagter Kiernan was daar en het uitgeskop. Lockyear het gebreek en Engelbrecht het in die lyn ingekom van die oorkant af maar Brophy het gedraai en veroorsaak dat Gainsford se aangee vorentoe was. Nogsteeds het die Springbokke hulle agterlyn gebruik met Oxlee en Gainsford wat 'n skêr-beweging uitgevoer het, maar toe Kirkpatrick die bal kry, is hy onder stof geloop deur Pedlow.
Baie van die spel deur Suid Afrika het om losskakel Oxlee gedraai en toe hy sien sy senters was gemerk deur die Iere, toe verander hy taktiek en speel terug na sy voorspelers. Spel op daardie stadium was meestal aanvalspogings deur die Springbokke met goeie verdediging deur Ierland wat punte verhoed het. Toe Oxlee en sy makker nie kon deurkom nie, het hy begin om lynskoppe en steekskoppe vorentoe te gee om te sien of dit nie sou help nie, maar dit was eerder 'n oorwinning vir die Iere dat hulle die Springbokke kon keer om punte te kry. Maar kon hulle voorspelers enduit hou tee die Springbok pak?
Losskakel Armstrong het self hoë skoppe op heelagter Lionel Wilson gelos wat hom probleme gegee het. Toe Armstrong dit weer doen, was hy laat geloop deur Hugo van Zyl en die skeidsregter het 'n strafskop aan Ierland toegeken naby die kantlyn en so 30 treë van die pale af. Heelagter Tom Kiernan het die bal gestel en toe sy bal deur die pale seil, was al 40 000 toeskouers op hulle voete en het uitbundig applous gegee (0-3).
TWEEDE HELFTE:
Die Springbokke het van die afskop af ingeklim en gedryf met die bal en die Iere moes bontstaan. Van 'n skrum net buite Ierland se '25' het Hennie van Zyl by die agterlyn aangesluit en met sy lang hale het hy en die agterlyn gevaarlik gelyk. Die aangee na 'n spanmaat het skipbreuk gely maar die bal het weer vinnig uitgekom en die keer is na regs geslaan met die agterlyn. Die Iere se verdediging was oorhoops en toe John Gainsford die bal kry, het hy gehardloop en sierlik oorgeduik naby die hoekvlag vir sy drie. Lockyear wat met drie strafskoppe in die eerste helfte misluk het, kon ook nie die vervyfskop oorsit nie (3-3).
Die Springbokke het weer aangeval en Oxlee het eers vir Baard en toe vir Pelser aan sy binnekant gevoer maar die Ierse verdediging het gehou. Oxlee het toe die steelkant probeer maar daar was die flank Kavanach in sy pad. So is die een na die ander Springbok beweging deur die Iere gestop met goeie verdediging, maar hoe lank kon hulle hou? Jannie Engelbrecht het oop geloop en by Van Zyl aangesluit maar 'n oor-aangee wat terug geklap deur Bornemann en Kienan kon verligting bring met 'n kantlyn skop.
Toe kry Ierland se Armstrong die bal en sy skop vorentoe het gevaar voorspel vir die Springbokke maar gelukkig het die bal skeef gespring en Wilson kon die gevaarlike situasie red. Weer was die Springbokke op die aanval en Oxlee se skepskop poging was net kort. In die skrums het die Springbok pak se krag begin tel. Stadig maar seker was dit die Iere wat terug gedryf is nader aan hulle eie doellyn.
Binne Ierland se '25' het die Springbokke geloop met 'n skrum en die bal in gehou. Die krag van die Springbok pak voorspelers was een te veel vir die Iere en hulle is oor hulle eie doellyn gestoot. Die bal wat toe losgemaak is, is toegeval deur Hugo van Zyl vir sy drie. Lockyear kon die keer slaag met die vervyfskop en net hierna het die eindfluitie geblaas (8-3). Die Iere het moedig probeer en nooit gaan lê nie, maar die Springbokke het hul oorwinning verdien en sover altwee die toetse gewen.
(83) Britanje, Saterdag 7 Januarie 1961
Twickenham, London- Derde Toets
Suid Afrika 5, Engeland 0
Toeskouers (72 000)
Skeidsregter: G.J. Treharne (Wallis)
VAN LINGS: Vlagman, Hennie van Zyl, Doug Hopwood, Frik du Preez, Hugo van Zyl, Piet du Toit, Jannie Engelbrecht, Ian Kirkpatrick, Lionel Wilson, Piet Uys, Dave Stewart, John Gainsford, Abie Malan, Fanie Kuhn, Johan Claassen, Avril Malan (Kaptein).
EERSTE HELFTE:
Engeland het afgeskop en Lionel Wilson het gevang en uitgeskop maar is laat geloop deur agsteman Morgan en Wilson se wind was 'n rukkie uit. Die skeidsregter Treharne van Wallis, wat ook die vorige toets teen Ierland hanteer het, het onmiddelik 'n strafskop aan Suid Afrika toegeken. Altwee spanne het in die eerste tien minute senuagtig voorgekom en ongedwonge foute gemaak. Spel het gewissel van een helfte na die ander sonder dat die doellyn in gevaar was.
Die Springbokke het toe met 'n agterlyn beweging gekom en Hennie van Zyl het buite om sy opponent Young gekom nadat Young vir Kirkpatrick gegaan het. Van Zyl het 'n mooi lopie ingekry maar is deur losskakel Risman plat getrek. Dit was Risman wat vêr en wyd geskop het vir sy vleuels om iets te probeer maar Wilson was op sy pos. Wanneer die Engelse so half deurgekom het was dit veral Hopwood op kruisverdediging wat hulle neer getrek het.
Die Springbok pak voorspelers het algaande die oorhand begin kry oor die Engelse voor rustyd. Engeland het so 35 treë van hul doellyn af die bal by 'n skrum ingegooi en die skrum geswaai na die oopkant. Die bal het uitgeskiet en Jeeps is in besit betrap. Johan Claassen het die bal gekry en veld in gestorm en toe aansluiting van Doug Hopwood gekry. Hopwood was op soed en het een opponent naby die hoekvlag ontduik en toe oorgeduik vir 'n drie.
Abie Malan was gewaarsku deur die skeidsregter omdat hy 'n hou geswaai het na een van die Engelse spelers (daar is altyd twee kante van 'n storie).
Aangesien Dave Stewart (losskakel) en Lionel Wilson (heelagter) nie erkende skoppers was nie het die belangrike vervyfskop op die skouers van groot Frik du Preez gerus wat in sy eerste debuut toets gespeel het. Die skare het stil geword toe hy vorentoe kom en die bal hoog en suiwer deur die pale jaag, en dawerende applous het om die veld los gebars (5-0). Hierna het die rustyd fluitjie geblaas.
TWEEDE HELFTE:
Die algemene gevoel in die persbank was dat nadat die Springbok voorspeler pak die oorhand gehad het oor die Engelse en ook met 'n waardevolle vyf punte voor was met die omdraaislag, dat die spel meer oop sou word en die bal meer lug gegee sou word. Die Springbokke met hulle groter en sterker voorspelers het die bal beheer en Engeland in 'n wurggreep gehou feitlik die hele tweede helfte.
Dit het tot gevolg gehad dat spel nie gevloei het nie en dat dit volgens 'n Engelse persman J.B.G. Thomas, 'n dooierige en swak tweede helfte tot gevolg gehad het wat toeskouers nie sou kon geniet het nie. Die Springbokke het weliswaar hulle oorwinning verdien maar self toe die spelers bladskud en truie uitruil na die wedstryd was daar geen spontane blydskap te bespeur nie. Almal was seker maar bly die onvermydelike vervelige rugby het tot 'n einde gekom. Die Springbokke het dus hulle derde toets wedstyd van die toer met 5-0 gewen en die volgende fokuspunt was Skotland.
FOTOS VAN DIE TOETS:
(84) Britanje, Saterdag 21 Januarie 1961
Murrayfield, Edinburgh - Vierde Toets
Suid Afrika 12, Skotland 5
Toeskouers (58 000)
AGTER: Abie Malan, John Gainsford, Dave Stewart, Doug Hopwood, Hennie van Zyl, Jannie Engelbrecht, Frik du Preez, Fanie Kuhn. SITTENDE: Hugo van Zyl, Johan Claassen, Boy Louw (Onder-Bestuurder), Avril Malan (Kaptein), Ferdie Bergh (Bestuurder), Ian Kirkpatrick, Piet du Toit, VOOR: Keith Oxlee, Piet Uys.
EERSTE HELFTE:
Die Skotse span is 'n gevoelige knou toegedien net voor die toets toe hulle kaptein, Gordon Waddell moes onttrek as gevolg van siekte. Laughland is van senter na losskakel verskuif en McKeating het sy plek op senter geneem. Daar was aanvalle van beide spanne vroeg in die wedstryd en die Skotte se senters en losvoorspelers het gesorg dat die Springbokke se gevaarlike agterlyn nie kon deurkom nie.
Dit was eers na twintig minute se spel dat die Springbokke die eerste punte kon aanteken. Vanaf 'n skrum naby die Skotte se doellyn het Doug Hopwood agter opgetel en gemaak of hy gaan uitgee. Die Skotse flank Ken Smith was geflous daardeur en Hopwood was oor vir nog 'n drie in internasionale rugby (3-0). Hierna was dit die Skotte se beurt toe Arthur Smith die bal verloor het toe hy wou oorgaan, na 'n goeie agterlyn beweging.
Weer was dit Hopwood wat weggebars het vanaf 'n skrum en toe hy vasgevat word, was Johan Claassen daar wat die bal gekry het en oor geduik het vir sy eerste drie in twintig internasionale wedstryde. Die vervyfskop was mis en toe het rustyd aangebreek met Suid Afrika voor met 6-0.
TWEEDE HELFTE:
Die Skotse span het nie gaan lê nie, inteendeel hulle het met nuwe vasberadenheid aangeval vroeg in die tweede helfte. In die losspel het hulle goed gevaar maar in die lynstane was Claassen en Malan die beste daaraan toe. Met Frik du Preez op flank het die Springbokke 'n ekstra lynstaanman gehad en die bal is menige keer agter gegooi waar Claassen wat van voor omgeskil het die bal gevat het om vorentoe te stormram. Abie Malan het op haker die vasskop stryd met 7-2 gewen om sodoende genoeg besit te verseker.
Halfpad deur die tweede helfte het Laughland probeer met 'n skepskop naby die Springbokke se '25', maar die bal het wyd getrek en voor die Springbokke hulle oë kon uitvee, was die vinnige vleuel Arthur Smith wat opgevolg het, by en het die bal net voor die doodlyn gekry en gedruk met verbaasde en geskokte Springbokke wat dit nie kon glo nie. Dit wys net weer dat mens nooit op jou louere moet rus en hoop vir die beste nie. Heelagter Ken Scotland het die bal gestel omtrent vyf treë van die kantlyn af en sy skop was suiwer oor om dit 6-5 te maak.
Ongelukkig vir die Skotte is 'n voorspeler by 'n losskrum vir onkant gestraf en Frik du Preez het vanaf die tien-treë lyn af geen fout gemaak met sy strafskop nie (9-5). Ongeveer ses minute later is Skotland weer gestraf vir 'n skrum oortreding en weer het Frik kans gekry pale toe. Die keer van so 30 treë af en weer het hy geslaag om die uitslag redelik veilig te maak met die Springbokke voor met 12-5.
Met die twee strafskoppe wat die Springbokke in die tweede helfte gekry het is die arme skeidregter Mnr. Boundy van Engeland deur die skare uitgejou. In 'n onderhoud na die wedstryd het hy aan Maxwell Price gesê: "Die Springbokke het gewys dat hulle baie gedisiplineerde rugbyspelers is met 'n goeie kennis van die reëls. Hulle skrum en lynstaanwerk is uitstekend en dat hulle die rugby en skeidsregters in Britanje goed gedoen het. Daar is al lank 'n behoefte in Britanje se klub rugby om ongedissiplinêre en eenvoudige spel uit te skakel in die skrums en lynstane. Met julle spelers so goed gedisiplineerd wil dit voorkom of julle skeidregters baie suksesvol is".
(85) Frankryk, Saterdag 18 Februarie 1961
Colombes Stadion, Parys - Vyfde Toets
Suid Afrika 0, Frankryk 0
Toeskouers (55 000)
Skeidsregter: D.G. Walters (Wallis)
STAANDE: Abie Malan, Jannie Engelbrecht, Martin Pelser, Doug Hopwood, Dave Stewart, Hugo van Zyl, John Gainsford, Lionel Wilson. SITTENDE: Johan Claassen, Dick Lockyear, Boy Louw (Onder-Bestuurder), Avril Malan (Kaptein), Ferdie Bergh (Bestuurder), Ian Kirkpatrick, Piet du Toit. VOOR: Fanie Kuhn, Mike Antelme.
EERSTE HELFTE:
Dave Stewart het afgeskop teen 'n effense windjie maar onder feitlik idiale weersomstandighede. Maar sommer van die eerste skrum af het die Franse kapok haantjie temperament te voorskyn gekom. Ja die Franse kan moeilik raak by tye en dan "rol die bolle" soos hulle sê. Die kleinerige skeidsregter van Wallis, Mnr. Walters moes probeer orde herstel voorlangs en hy het hard met die twee stelle voorrye gepraat. By die volgende skrum was Moncla die Franse kaptein onkant en Lockyear kon pale toe skop. Terwyl hy die bal gestel het moes Martin Pelser behandeling kry vir 'n knie op sy oog, waarskynlik van die botsing met Moncla. Lockyear se skop was egter kort.
Die volgende twee skrums het weer moeilikheid opgelewer en toe het die skeidsregter altwee kapteins eenkant geroep en hard met hulle gepraat en gewaarsku dat as Suid Afrika reageer op die Franse se ruwe spel en moeilikheid makery dan gaan hulle ook gestraf word. Die volgende speler wat moeilikheid maak sal die trekpas kry. Hierna het dit beter gegaan. Altwee spanne het toe begin om lekker met die bal te hardloop maar die verdediging aan albei kante was goed. Toe kom die gebruiklike Springbok tradisionele spel van maak vas voor en dryfmaal. In die storm beweging tot in die Franse se kwartgebied is Crauste beseer maar na behandeling kon hy voortspeel. Toe het Bouquet die Franse senter vir Gainsford geklop en vêr gehardloop en weer laat loop maar die Springbokke het herstel en die beweging gestop.
Lacroix die Franse skrumskakel was 'n handvol en saam met sy losvoorspelers was hulle by tye gevaarlik. Dave Stewart moes haastig skop van sy eie doellyn af maar sy skop is afgestorm deur Crauste wat die bal agterna gesit en gedruk het maar ongelukkig vir hom en die Franse, eers agter die doodlyn. Dit was 'n opwindende wedstryd waarin die Franse die Springbokke behoorlik getoets het en hulle losskakel Albaladejo het met goeie skoppe druk geplaas. Hierna het die Springbokke tot tien treë van die Franse doellyn gevorder na 'n kort tik-skoppie op hulle eie kwartlyn. Toe jaag Rancoule die vleuel die Bokke weer terug met 'n lang skop. Hierna het Albaladejo amper met 'n skepskop geslaag maar die bal was rekelings verby. Net voor rustyd het Rancoule amper gaan druk maar die skop van Bouquet na die hoekvlag se spring van die bal het hom geflous. Rustyd was die telling 0-0.
TWEEDE HELFTE:
Na rustyd met 'n effense wind van agter was dit die Springbokke wat gou in die Franse "25" was. Hier het Stewart se skepskop poging net verby geseil. Die wind het al sterker geword en die Franse moes verdedig so al wat hulle kon. Die Franse was altyd bereid om te hardloop met voorspelers en agterspelers en as dit nie vir 'n hanteerfout of twee was nie kon hulle drieë gekry het. Toe Lionel Wilson 'n slag by sy agterlyn aansluit was Hugo van Zyl amper deur en was hy treë van die doellyn gestuit. Die Springbokke het verwoed aangeval maar hulle taktiese skopwerk het hulle in die steek gelaat en heelagter Vannier en sy vleuels het mooi gedek en gekeer dat die Springbokke kon punte aanteken.
Soos die wedstryd aangegaan het was dit duidelik dat 'n gelykop uitslag onafwendbaar is want nie een van die spanne kon deurbreek nie. Dave Stewart het 'n slag mooi gebreek en sy aangee na Kirkpatrick weggekry maar die verdediging het weer die beweging gesmoor. Die Springbok agterlyn het nie so gevaarlik soos die Franse gelyk nie en die laaste mooi harloop beweging het van die Franse gekom. Die Franse het aangeval en Bouquet het weer mooi gehardloop maar sy laaste aangee na Rancoule was nie akkuraat nie en die bal het weggespat en daardeur verhoed dat die Springbokke pak kry. Die eindtelling van 0-0 was 'n teleurstelling vir die grootste skare wat nog 'n rugby wedstryd in Frankryk gesien het.
Hi Mike, yes the series I intend to take up to 1996 when the professional era started.
Johan, are you going to add to this by including the years after 1963.
Hallo Johan, ja ek behandel elke toer wat die Springbokke in die amateur era gespeel het. Die 1933 toer kort nog maar sodra ek my boek wat bestel is kry, gaan ek hom byvoeg. As jy mooi fotos het en jy kan dit scan sal ek bly wees om dit te kan inwerk hier. Groete.
Ek het plakboeke vir elke jaar vanaf 1962 en dit is seker wat my geheue verfris want ek kan glad nie die 1961 kort toere van Australia en Ierland onthou nie. Hierdie is 'n wonderlike werk wat gedoen word en ek en seker baie ander het groot waardering daarvoor.