Deur die jare vanaf 1921 het die Springbokke en die All Blacks sake op die rugbyveld uitgespook en was die kompetisie tussen die twee lande meestal om te bepaal wie is die wêreld kampioene (nie amptelik natuurlik want daar was nog nie om 'n Wêreldbeker baklei nie).
Avril Malan (23) was die jongste kaptein wat nog vir Suid Afrika gekies was teen die All Blacks in 1960.
Ses Springbokke bring ervaring na die reeks in 1960 nadat hulle ook deur Nieu Seeland getoer het in 1956 naamlik, Chris Koch, Piet du Toit, Johan Claassen, Bertus van der Merwe, Roy Dryburgh en Ian Kirkpatrick.
Chris Koch het met sy twee toetse in die reeks ook die rekord van Salty du Rand wat 22 toetse gespeel het verbeter toe hy dit opgeskuif het na 23.
All Black heelagter, Don Clarke se 175 punte is 'n rekord vir 'n speler op toer in Suid Afrika. Don se broer Ian was ook lid van die span van 1960.
Dit was die eerste keer dat 'n weermag span teen 'n besoekende span gespeel het en boonop nog gewen het ook toe hulle die All Blacks met 8-3 geklop het.
Die Springbok keurders was: Frank Mellish (Voorsitter), George van Reenen, Jan Lotz, Morris Zimmerman, Basil Kenyon.
All Black portrette, 1960
(77) Suid Afrika, Saterdag 25 Junie 1960
Ellispark, Johannesburg - Eerste Toets
Suid Afrika 13, Nieu Seeland 0
Toeskouers (75 000)
Skeidsregter: E.A. Strasheim (Suid Afrika)
AGTER: Dick Lockyear, Hugo van Zyl, John Gainsford, Mike Antelme, Keith Oxlee. STAANDE: Piet du Toit, Loftie Nel, Hennie van Zyl, Martin Pelser, Ian Kirkpatrick. SITTENDE: Abie Malan, Johan Claassen, Roy Dryburgh (Kaptein), Hennie Muller (Bestuurder/Afrigter), Avril Malan (Onder-Kaptein), Chris Koch.
Don Clarke (ha), Ralph Coulton (v), Terry O'Sullivan (s), Terence Lineen (s), James Watt (v), Adrian Clarke (ls), Kevin Briscoe (ss), Wilson Whineray (vr, kaptein), Denis Young (h), Mark Irwin (vr), Peter Jones (f), Nev MacEwan (sl), Colin Meads (sl), Kelvin Tremain (f), Red Conway (am).
Rugby balle is van die vroegste tye van beesvel gemaak en verskeie metodes is gevolg. Die leer balle was verkrygbaar in 4, 6 en 8-naat of panele. Suid Afrika het die 8-naat balle verkies terwyl Nieu Seeland die 4-naat balle verkies het. Die 1960 reeks was nog met die 8-naat bal gespeel, maar vanaf 1961 het die Internasionale Rugby Raad besluit dat alle toets wedstryde met die 4-naat balle gespeel moet word.
EERSTE HELFTE:
Hierdie toets oorwinning was die tweede grootste vir die Springbokke teen Nieu Seeland sedert die 17-0 telling in die eerste toets van 1928. Die Springbok voorspelers het 'n wurggreep op die All Blacks gehad van die begin af en Claassen en Malan het die lynstane oorheers. Die All Blacks kon eers na tien minute uit hulle helfte kom en toe kry hulle sommer ook 'n strafskop. Don Clarke se bal het omgeval en volgens die reels moes hy toe gestraf word omdat hy die bal hanteer het in plaas van 'n spanmaat en skeidsregter Strasheim het 'n skrum beveel. Kort hierna is Lockyear gestraf en Clarke se 50 treë poging was regs verby.
Na twintig minute het dit gebeur. Die Springbokke se eerste punte het gekom van 'n vooraf uitgewerkte beweging. Vanaf 'n skrum op die All Blacks se tien treë lyn en naby die regterkantse kantlyn is die bal van Lockyear na Oxlee. Mike Antelme, die steelkant vleuel het met spoed ingekom en Oxlee se kort aangee gevat, amper soos 'n onderskepping. Met die All Blacks se agterlyn wat glad nie die beweging sien kom het nie onkant betrap, het Antelme deur die gaping geskiet. Die All Black vleuel Watt wat probeer keer het is mooi getrek deur Antelme en toe kry Kirkpatrick die bal. Met net Don Clarke oor het Kirkpatrick hom laat huiwer en toe vir Hennie van Zyl gegee. Van Zyl het die skare na hulle asems laat snak toe hy vir Coulton ook geklop het en met 'n boog die bal agter die pale gaan plant het. Dryburgh het die maklike skop vervyf en die sielkundige hou is die All Blacks toegedien (5-0).
Kort hierna het Gainsford 60 treë gehardloop en gaan druk maar daar was 'n aanslaan. Die eerste halfuur het Suid Afrika die stewige greep op die All Blacks behou en net Clarke se lang kantlyn skoppe het verligting gebring. Voorlangs het dit by tye rof gegaan en Whineray was nie te gelukkig wanneer Piet "spiere" du Toit hom kwaai opgekeil het in die voorry nie. Selfs in die losskrums waar die verwagting was dat die All Blacks beter daaraan toe sou wees, het die Springbokke met Martin Pelser, te spyte van sy gebrek van net een oog, die botoon gevoer. Die eerste helfte het meestal aan Suid Afrika behoort maar 'n 5-0 voorsprong was nie genoeg nie.
TWEEDE HELFTE:
Die Springbokke het gesoek vir nog punte en toe Young gestraf is in die skrum, was Dryburgh se poging van 40 treë mis. Die All Blacks het ongedwonge foute gemaak en toe 'n skêrbeweging tussen Adrian Clarke en Lineen misluk, kon Gainsford nie vir Abie Malan in besit stel nie omdat hy te lank aan die bal vasgehou het. Hierna het Lockyear by Jones verby gebreek maar Kirkpatrick kon nie 'n swak aangee van Oxlee vashou nie.
Die punte wat moes kom het eers in die twintigste minuut gebeur en weer was dit Antelme wat die ekstra man oor bewerkstellig het toe hy aangesluit het vanaf 'n vaste skrum en vir Watt getrek het. Toe Hennie van Zyl die bal kry omtrent 40 treë van die All Blacks se lyn af van Kirkpatrick, was daar geen keer nie en met Clarke voor hom, het hy na buite geswenk en om Clarke gehardloop. Hy moes nog die kruisverdediging ook klop en het seker drie All Blacks afgeskud en met Conway se duikslag oor die doellyn geskuif vir sy tweede om 'n uitstekende individualistiese drie te gaan druk. Kaptein Dryburgh het toe vir Lockyear gevra om te skop en sy vervyfskop vanuit 'n wye hoek was mooi suiwer oor en Suid Afrika was met 10-0 voor.
Kyk na die drie van Hennie van Zyl:
Afrikaanse radio kommentaar vir die SAUK deur Awie Labuschagne as hy Hennie van Zyl se drie beskryf.
Hier is 'n video greep van die drie van Hennie van Zyl.
Agt minute later met Suid Afrika nog in beheer, was dit 'n All Black wat onkant gegaan het en weer het Lockyear 'n skuins skop van 35 treë oorgesit om die telling 13-0 te maak. Dis hierna wat die All Blacks bietjie wakker geskrik het en probeer aanval het, maar Gainsford en Kirkpatrick het met goeie duikslae gekeer dat die All Black agterlyn aan die gang kon kom. Dit het veroorsaak dat die All Blacks liefs die bal voorlangs gehou het. In die vyf-en-twintigste minuut het Young gehaak en Briscoe het Tremain weggestuur. Jones die groot flank het sy binne-aangee gevat en voortgestorm doellyn toe maar is deur 'n heldhaftige duikvat van Dryburgh gestuit naby die doellyn.
(78) Suid Afrika, Saterdag 23 Julie 1960
Nuweland, Kaapstad - Tweede Toets
Suid Afrika 3, Nieu Seeland 11
Toeskouers (46 000)
Skeidsregter: M.J. Slabber (Suid Afrika)
AGTER: Bertus van der Merwe, Hugo van Zyl, Piet du Toit, Mike Antelme, John Gainsford. STAANDE: Keith Oxlee, Hennie van Zyl, Loftie Nel, Martin Pelser, Ian Kirkpatrick, Dick Lockyear. SITTENDE: Johan Claassen, Roy Dryburgh (kaptein), Hennie Muller (bestuurder/afrigter), Avril Malan (onder-kaptein), Chris Koch.
Don Clarke, Frank McMullen, Kevin Laidlaw, Terry Lineen, James Watt, Steve Nesbit, Kevin Briscoe, Wilson Whineray (kaptein), Denis Young, Ian Clarke, John Graham, Nev MacEwan, Ron Horsley, Kelvin Tremain, Colin Meads.
EERSTE HELFTE:
Die tweede toets was gespeel omtrent 'n maand na die eerste toets. Die slag was dit die All Blacks wat sterk begin het en die Springbokke wat senuagtig was in die eerste vyftien minute. Na 'n strafskop vir 'n vroeë duikslag op 'n All Black was dit Don Clarke wat 'n hoë "up-and-under" op Dryburgh gelos het en hy het aangeslaan. Nesbit het deurgesny en Watt is net-net by die hoekvlag uitgeslinger deur Van Zyl. Later is vasgestel dat Dryburgh 'n lelike hou op sy dy gekry het deur die aanstormende All Black voorspelers. Hy het hierna probleme ondervind om die bal te beheer, maar dit probeer verdoesel. Dryburgh die kaptein het nogsteeds die skoppe waargeneem en alhoewel hy misluk het, het hy nie aan Lockyear wat goed op Ellispark geskop het, gegee nie. Nugter weet hoekom nie want so is punte in die water gegooi.
Toe Koch onkant betrap word by 'n losgemaal, het Don Clarke geen fout gemaak met 'n betreklik maklike skop nie en dit was 0-3. Vir die eerste twinting minute was die Springbokke se spel nie baie goed nie en Lockyear en Oxlee het nie goed kombineer nie. Na die eerste twintig het Suid Afrika gaandeweg beter gespeel.
Toe Whineray in besit betrap word voor sy pale na 'n strafskop wat Dryburgh nie kon oorkry nie, het Briscoe die bal verloor na 'n hewige losskrum en Hugo van Zyl het Lockyear se aangee laat val met 'n oop doellyn voor hom. Aanhoudende druk het wel punte gebring vir Suid Afrika in die een-en-dertigste minuut met slim spel. Briscoe se onderarm teruggee na Don Clarke was van die merk af en Clarke moes terugval en het oorgedra toe hy voorgekeer word.
Van 'n vyf-treë skrum het Van der Merwe gehaak en Lockyear het die All Black losvoorspelers saam met hom gevat op verdediging toe hy wyd en steelkant om gebreek het. Lockyear se binne-aangee na Oxlee het gemaak dat hy kon deurglip vir 'n drie 10 treë van die hoekvlag af. Ter verbasing van die toeskouers het Dryburgh weer die vervyfskop waargeneem en hom sleg gehaak (3-3).
Hierna het Hugo van Zyl die bal 40 treë veldop geskop en Don Clarke wat kwêsbaar onder 'n rollende bal is het misgetas en was in besit betrap deur twee Springbokke. John Gainsford het gekry en met Lineen wat verdedig, oorgeduik maar die skeidsregter het 'n skrum beveel. Clarke het van agter sy doellyn met 'n allemintige 65-treë skop verligting gebring. Rustyd het aangebreek met die telling 3-3.
TWEEDE HELFTE:
Behalwe vir opflikkerings hier-en-daar, het die tweede helfte heeltemal aan Nieu Seeland behoort. Die All Black voorspelers het oorgevat en beheer en die Springbokke harde klippe laat kou met stormlope en dryfbewegings. Swak skopwerk van Oxlee, Lockyear en Dryburgh het ook nie gehelp nie. Don Clarke het uitstekend gespeel en takties sy spel afgewissel en ook verder terug gestaan as op Ellispark wat hom meer tyd gegee het. Sy kragtige kantlyn skoppe het die Springbokke moedeloos gehad en hulle telkemale laat omdraai.
Nieu Seeland het hulle huiswerk deeglik gedoen en Claassen en Malan goed dopgehou in die lynstane en ook spelers gewissel om die Springbokke te uitoorlê. Met 'n geklappery was die lynstane redelik slordig. In die voorry wou dit ook nie vlot nie en 'n paar keer het vuiste geklap en veral Du Toit was gewaarsku dat hy Whineray afgetrek het.
Met Nieu Seeland wat gebiedsvoordeel geniet het, het hulle kanse gekom, maar toe Hugo van Zyl in sy "25" onkant gaan, het Don Clarke die maklike skop skeef getrek. Die All Blacks het egter verskeie kanse om moontlik drieë aan te teken verspeel met verkeerde besluite. Met net sowat tien minute speeltyd oor het Nesbit na lings 'n dwarsskop gelos en Antelme was platgetrek deur McMullen binne die "25". Lineen en Laidlaw was eerste by die los bal en Laidlaw se binne aangee het vir Colin Meads gevind en die ou grote was oor vir sy drie. Blykbaar was dit 'n vorentoe aangee, maar die drie het gestaan. Don Clarke se vervyfskop was oor en daarmee ook sy 100ste punt op toer om die telling op te skuif na 8-3 vir die All Blacks. Drie minute voor die einde het Briscoe nie sy agterlyn gevoer nie maar die bal vêr teruggegooi na Clarke wat vasgetrap het en met sy linkervoet 'n goeie skepskop oorgesit het om die finale spyker in die doodskis te slaan (11-3) vir die All Black wen en daarmee die reeks op 1-1 lewendig te hou.
Die tweede toets teen Nieu Seeland op Nuweland in Kaapstad van 1960 was ook die laaste toets vir Chris Koch. Die boer vanuit die Boland in Moreesburg was vir elf jaar 'n staatmaker in die voorry vir die Springbokke. Hy het in elke reeks vanaf 1949 tot 1960 gespeel en daarmee saam ook die rekord wat Salty du Rand gehou het van 22 toetse tot 23 verbeter.
Terwyl hy vir Boland gespeel het, het Dr. Danie Craven as Springbok keurder die wedstryd bygewoon as keurder en hy is na die proewe genooi en die res is geskiedenis soos hulle sê. Hy was nie net 'n voorryman wat kon skrum nie, maar het gebaljaar in die los en heelwat drieë gedruk omdat hy beweeglik was en daarvan gehou het om met die bal te hardloop.
(79) Suid Afrika, Saterdag 13 Augustus 1960
Vrystaat Stadion, Bloemfontein - Derde Toets
Suid Afrika 11, Nieu Seeland 11
Toeskouers (56 000)
Skeidsregter: R.D. Burmeister (Suid Afrika)
EERSTE HELFTE:
Die derde toets van 'n reeks is altyd die belangrikste een wanneer die vorige twee gedeel is. Suid Afrika het die eerste toets gewen en die All Blacks die tweede, elkeen met 'n groot punte verskil. Dit was die tweede keer na 1933 dat Bloemfontein so 'n groot wedstryd gekry het. Die vyfde toets van 1933 was gespeel op Springbok Park in Bloemfontein waar rugby en krieket wedstryde gespeel was. Die Vrystaat stadion was ingewy in 1956 en weer grootliks verander en opgradeer in later jare.
Na die tweede toets so sleg deur die Springbokke verloor was, was dit onvermydelik dat die keurders veranderinge sou aanbring. Vier nuwe manne het die eerste keer die groen en goud oor hulle koppe getrek. Op heelagter is Roy Drybugh, kaptein, deur Lionel Wilson vervang en die kapteinskap is aan Avril Malan toegeken. Op haker is Bertus van der Merwe deur Abie Malan vervang. Fanie Kuhn het vir Chris Koch vervang terwyl Doug Hopwood vir Loftie Nel vervang het.
Die All Blacks het in sonskyn weer en met 'n effense wind van agter dadelik die nuwe heelagter Lionel Wilson gepeper met skoppe en veral Don Clarke se hoë skoppe het Wilson goed beproef maar hy het kalm gebly en nie foute gemaak nie. In die dun lug van Bloemfontein het Don Clarke sy langste buitelyn skop nog ooit geskop toe hy die bal van naby sy eie doellyn geskop het en met 'n kurwe het die bal 85 treë getrek tot in die Springbokke se "25". Die skare van 56 000 het gesnak na hul asems met die enorme skop.
Toe kry John Gainsford die bal en breek aan die buitekant by Lineen verby en hy het vêr gehardloop maar kon net nie die bal vashou toe Hennie van Zyl dit weer teruggee na Gainsford nie. Na sowat twintig minute het die Springbokke die bal in die skrum gehou en Tremain was onkant betrap. Dick Lockyear het 'n moeilike skop van 38 treë oorgesit vir die Springbokke (3-0). Iets waaraan die voorspelers onder Avril Malan hard gewerk het voor die toets was om die lynstane beter toe te maak sodat die All Blacks nie na willekeur kon deurbars nie. Colin Meads was 'n paar keer gestraf vir onkantspel.
In die agt-en-twintigste minuut kon Lockyear Suid Afrika laat voorloop het, maar sy strafskop het skeef getrek. Dit kon die verskil tussen wen en verloor beteken het as na die eindtelling gekyk word. Na 'n paar minute later was Suid Afrika weer op die aanval en goeie verdediging deur die All Blacks het 'n moontlike drie gekeer toe Hennie va Zyl die terug aangee van Oxlee gevat het naby die doellyn. Rustyd het aangebreek met Suid Afrika welverdiend voor met 3-0.
TWEEDE HELFTE:
Na net een minuut in die tweede helfte was Nieu Seeland gelyk toe Clarke 'n strafskop van 48 treë oorgesit het nadat Lockyear die bal skeef by die skrum ingegooi het (3-3). Twee minute later het Suid Afrika weer die voortou gevat toe daar obstruksie by 'n lynstaan was en Lockyear met 'n skuins strafskop van 40 treë geslaag het (6-3). Vir die volgende vyftien minute was dit die Springbokke wat met konstruktiewe en intellegente spel die botoon gevoer het. Gainsford het 'n goeie wedstryd gehad en toe Lineen weer die bal kry is hy onderstebo geloop deur Gainsford se duikslag.
Die All Blacks se plan dat Briscoe meestal vêr aangeë agtertoe na Don Clarke gee sodat hy met sy lang buitelyn skoppe verligting kan bring, het die keer nie geslaag nie. Martin Pelser wat opgevolg het was by en het Clarke se skop afgestorm. Die bal het veld-in gespring waar Gainsford en Kirkpatrick by was en opgepik was deur Kirkpatrick. Hy het ers buitekantoe gehardloop en vir Lineen en Laidlaw ontduik en toe binnetoe gesny en na Keith Oxlee laat loop wat sy tweede drie van die reeks onder die pale gaan druk het. Die skare was uit hulle stoele uit en Lockyear se vervyfskop het dit skielik 11-3 in die guns van die Springbokke gemaak.
Met veertien minute oor het die All Blacks 'n gulde kans om punte aan te teken deur hulle vingers laat glip. Toe Wilson sy enigste oordeelsfout van die middag maak na 'n skoppie vorentoe deur Briscoe, het Lineen die bal gekry maar sy vleuel Watt het terug geval om te keer as Wilson sou skop, en Lineen wat te lank aan die bal vasgehou het, met Graham en Conway aan sy binnekant, was deur Van Zyl vasgevat en die bal wat losgespat het is deur Gainsford uitgeskop.
Met ses minute oor was dit Pelser wat te haastig was met 'n duikslag en weer het Don Clarke die bal gestel, die keer vyf treë binne sy eie halfgebied in die middel van die veld en sy skop was oor (11-6). Op die einde het die Springbokke se onfiksheid onder die voorspelers begin tel en hulle het effens uitgesak terwyl die All Blacks se beter fiksheid begin tel het.
Kelvin Tremain het van agter 'n lynstaan af weggebreek met die bal en na Graham laat loop. Kirkpatrick het ingekom vir die verdediging en was vasgevang in 'n losgemaal. Die All Blacks het vinnig skoongemaak en Briscoe se vinnige aangee was grondlangs maar Lineen het dit opgeraap en na Laidlaw laat loop. Hy was deur die gaping en met Wilson voor hom, het hy na lings geskop waar McMullen die springende bal in die hande gekry het en met Hopwood te laat, oorgeduik het om dit 11-9 te maak met die vervyfskop wat nog voorgelê het. Don Clarke het die bal versigtig regop gestel en toe hy die bal uit die skuins hoek tref, was hy suiwer oor om die toets wat 'n kort rukkie gelede verlore vir die All Blacks gelyk het, deur te trek vir 'n gelykop uitslag van 11-11.
(80) Suid Afrika, Saterdag 27 Augustus 1960
Boet Erasmus Stadion, Port Elizabeth - Vierde Toets
Suid Afrika 8, Nieu Seeland 3
Toeskouers (60 000)
Skeidsregter: R.D. (Ralph) Burmeister (Suid Afrika)
AGTER: Mike Antelme, John Gainsford, Piet du Toit, Lionel Wilson. STAANDE: Keith Oxlee, Martin Pelser, Doug Hopwood, Hennie van Zyl, Hugo van Zyl, Abie Malan, Fanie Kuhn. SITTENDE: Johan Claassen, Avril Malan (Kaptein), Hennie Muller (Bestuurder / Afrigter), Dick Lockyear, Ian Kirkpatrick. Inlas: Stompie van der Merwe.
STOMPIE VAN DER MERWE maak sy debuut in Port Elizabeth.
Soos gesien kan word op die foto is Stompie van der Merwe as reserwe ingebring omdat daar twyfel bestaan het of Johan Claassen sou kon speel as gevolg van 'n besering. Nadat 'n dokter vir Claassen gesien het is besluit dat Van der Merwe sou speel.
Dit was trouens die enigste gedwonge verandering wat aan die span was nadat die Springbokke goed gespeel het in die derde toets en dalk ongelukkig was om daardie toets in Bloemfontein gelykop te deel met die All Blacks nadat hulle die gelykmakende drie eers reg op die einde aangeteken het.
DIE BELANGRIKHEID VAN DIE GELEENTHEID:
Daar is 'n paar redes waarom hierdie laaste toets van 1960 van groot belang was, naamlik, dit was tyd vir afrekening vir die Springbokke nadat Nieu Seeland in 1956 met die louere weggestap het en Suid Afrika moes weer opstaan en bou aan 'n nuwe span. Dit was dan ook die beslissende toets van die reeks nadat elke span een gewen het en een gelykop was, dus was die toets maak of breek vir albei spanne.
EERSTE HELFTE:
Dit was nie 'n sprankelende toets waar daar baie gehardloop is met die bal nie, grotendeels omdat daar 'n geweldige sterk wind in die Baai en in die stadion gewaai en gedraai het. Dit was nie al hindernis nie. Die veld was so uitgelê dat een span altyd die son in die oë gehad het en wat dit amper onmoontlik gemaak het om hoë skoppe gereeld raak te vang. Dit het 'n grootse, brawe en dapper poging van die voor en agterspelers van die Springbokke geverg om die toets deur die drif te trek, maar hulle het.
In die vyfde minuut het McMullen, die All Black senter amper gaan druk. Hy het die bal aan die steelkant gekry en tussen Lockyear en Van Zyl deurgeglip en met 'n fopaangee vir Lockyear geflous. Hy het op Lionel Wilson afgepeil en hom gesystap maar nie rekening gehou met Keith Oxlee wat teruggeval het op die verdediging nie. Oxlee het hom om die bene beetgekry en grond toe gebring. Alhoewel McMullen weer herstel het en oorgeduik het, het die skeidsregter Burmeister 'n strafskop aan Suid Afrika toegeken omdat die bal die grond geraak het voor sy poging.
Nog steeds het die All Blacks aangeval en Clarke en Davies was elk naby met skepskoppe en Meads en Conway wat van 'n lynstaan af weggebreek het, was eers naby die doellyn gestuit. Met goeie bal vanuit die lynstane van die slotte MacEwan en Horsley het nuweling losskakel Davies te veel goeie balle weggeskop maar nie hoës wat vir Wilson sou probleme gee teen die son nie. In die dertiende minuut is Avril Malan gestraf en Clarke het sy 19de punt uit 25 vir die reeks aangeteken met 'n skuins skop (0-3).
Ses minute later nadat die Springbokke al beter gespeel het en meer balle gekry het, was dit Don Clarke wat gestraf was toe hy vasgehou het met die Springbok losvoorspelers op hom, veral Pelser wat deurentyd 'n doring in die vlees van die All Blacks en Briscoe was. Toe Dick Lockyear die bal plaas vir die strafskop van 40 treë teen die wind het Bennie Osler in die persbank gesê: "hy kan dit nie doen nie", maar dis asof die wind net so effe gaan lê het toe Lockyear hom tref en die bal was suiwer oor die dwarslat vir die keerpunt van die toets wedstryd.
TWEEDE HELFTE:
Die Springbok skakelpaar Lockyear en Oxlee het dadelik die wind van agter gebruik met slim skoppies na die hoeke en hoë skoppe wat Don Clarke behoorlik getoets het. In die agste minuut het Briscoe 'n wilde aangee na Clarke geslinger en hy moes terugval maar met die voorspelers by hom moes hy dooddruk. Avril Malan het gevra vir 'n groot skrum poging en Abie Malan het gehaak maar die bal is tussen die slotte se voete gehou terwyl hulle geloop het met die skrum. Pelser het los gehang terwyl die res gestoot het en die skrum geswaai het met Colin Meads aan die verkeerde kant. Pelser wat die bal opgetel het het sy pad oopgebeur en vir Clarke saam oor die doellyn gevat en gedruk. Die beweging het die All Blacks heel onkant betrap. Lockyear het mooi vervyf en die telling was 8-3 vir die Springbokke.
Die Springbokke het kamp opgeslaan binne die All Blacks se gebied maar soos ons weet gaan lê die All Blacks nie sommer nie. Whineray het opdrag gegee dat tik-skoppies gevat moet word in plaas van pale toe teen die wind alhoewel Clarke nog 'n poging van 40 treë probeer het wat die regoppaal getref het. Daar was nog steeds die tweestryd tussen Briscoe en Pelser en toe Briscoe vir Pelser skop met die skeidsregter nie op hulle gefokus nie, het Pelser afgehaak met 'n vuishou wat elke toeskouer moes gesien het.
Clarke het met twee stafskop pogings en Lockyear met een misluk. McMullen het weer die bal in die middelveld gekry en mense het dalk gewonder of hy sy poging van die derde toets sou herhaal toe hy op die einde gaan druk het, maar die Springbokke het hom onder stof geloop. Teen die einde het die Springbokke amper weer gaan druk toe Lockyear na die oopkant beweeg het maar toe skielik vir kirkpatrick aan die steelkant weggestuur het. Kirkpatrick was op vol spoed maar is met 'n goeie duikslag van Clarke gekeer. Die eindfluitjie het kort hierna geblaas met duisende mense wat op die veld gestorm het om hulle helde skouerhoog af te dra, Die eindtelling was 8-3 vir die Springbokke en daarmee is die reeks gewen en die reeks-nederlaag van vier jaar gelede in Nieu Seeland gewreek.
Baie dankie Johan. Jy doen dit uitstekend. Welgedaan!!